12-jarige pianis wen gesogte prys
Nina Prinsloo speel maar slegs vier jaar klavier, maar het reeds vanjaar een van die mees gesogte pryse vir pianiste, die Hennie Joubert-prys, gewen.
Die 12-jarige Curro Nelspruit-leerder sê dit was ‘n groot verrassing.
”Ek het nie eers geweet dat ek vir die prys in aanmerking geneem was nie. My ma het die nuus per e-pos ontvang en my daarvan vertel, nadat sy eers moes google wat die prys eintlik is,” vertel Nina.
Die klavierkompetisie het vantevore eers bekend gestaan as die Dietmann Piano Competition wat in 1986 gestig is. Dit poog om die mees talentvolle jong pianiste in Suid-Afrika te help ontwikkel.
Die kompetisie het gegroei tot die mees toonaangewende klavierkompetisie in Suid-Afrika. Eertydse jeugdiges wat aan die geleentheid deelgeneem het is die hedendaagse groot name in klavierspel in die musiekbedryf.
LEES OOK: Erns raak ernstig tydens boekloods
Die toekenning word toegeken aan die kandidaat wat die hoogste punte landswyd vir die betrokke musiekeksamen gekry het.
Vir Nina was dit vir haar Unisa voorgraadse eenklavier-eksamen 2018. Haar naam en foto pronk nou in Unisa se spogglanstydskrif, Achievers, en sy kry ook ‘n stewige kontantprys.
Nina oefen elke oggend vir 30 minute voor sy skool toe gaan. Sy glo dit is wat haar tussen die ander laat uitstaan het.
”As ek ‘n fout maak, oefen ek die maat oor en oor vir 26 keer, dan sal ek nie weer die stuk verkeerd speel nie,” sê Nina.
Sy sit egter nie net agter die klavier die hele dag nie – sy neem ook deel aan Latynse danse, drama, en luister graag na Coldplay en Imagine Dragons.
“Ons is opreg trots op haar, want dit vra toegewyde en netjiese voorbereiding vir ‘n klassieke musiekeksamen wat baie finesse vereis,” sê haar trotse ma, Jonette Prinsloo.
Sy het haar klavierjuffrou, Rita Riekert, bedank dat sy haar so klawerwys gemaak het.
LEES OOK: Albé vier dekade van tweede lewe
