‘n Lewe met disleksie
"Ek is dom en stupid; hoekom gee julle nie maar op met my soos die res nie?"

Dit is woorde waarmee baie kinders wat aan disleksie ly huistoe kom na ‘n uitdagende dag by die skool. Dit is egter ook nie net bloot woorde nie; hierdie kinders en volwassenes glo dat hulle inderdaad dom is.
Sowat ‘n jaar gelede het Kyle (skuilnaam) met die presiese woorde by die huis gekom, sy skooltas in ‘n hoek gegooi en besluit hy gee op, want hy is en sal nooit goed genoeg wees nie.
Die bure sal getuig dat Kyle ‘n besige kalant is. Hy is baie nuuskierig, lief vir die buitelewe en spandeer meeste van sy tyd buite saam met maats. Sy punte het in graad drie drasties begin val. Hy het sommige vakke gedruip en is bestempel as ‘n hiperaktiewe kind. Sy ouers het hom na drie verskillende dokters geneem, insluitend ‘n sielkundige. Die eindresultaat was dat hy op ADHD medikasie gesit is in ‘n poging om hom rustiger te maak, minwetend dat sy probleem dieper gewortel is.
Lees meer: ‘n Lewe na ‘n ongeluk
In graad vier het sy ouers agtergekom dat hy sukkel om te presteer op die vlak waarop sy mede-klasmaats doen. Teen daardie tyd was Kyle en sy ouers moedeloos en het die druk te veel vir hom geword. Hy was op die punt om op te gee.
‘n Famillielid het vir Kyle se ma laat weet van ‘n artikel oor disleksie in ‘n tydskrif. Sy het die tydskrif gekoop, maar nie veel aandag daaraan gegee nie. Haar man het een aand die artikel gelees en vir Kyle geroep. Hy het voorbeelde van disleksiese skrif vir hom gewys en vir hom gevra wat hy sien. Kyle het na ‘n prentjie gewys wat demonstreer dat die woorde van die bladsy afval. Dit is toe dat hulle besef dat hy moontlik disleksies is.
Sy ouers het hom so gou as moontlik by ‘n dokter wat in disleksie spesialiseer, gekry. Daar is hulle ingelig dat daar sewe soorte disleksie is en dat hy aan drie van die sewe ly – die motoriese, ouditiewe en visuele afwykings. Vir Kyle lyk alles wat hy sien vreemd, dit wat hy hoor verwerk sy brein verskillend en wanneer hy iets moet neerpen, doen hy dit soos hy dit sien – met letters deurmekaar en omgeruil.
Lees gerus: Jy kan ‘n seuntjie se lewe verander
Kyle se ma het ‘n kursus in disleksiese leergeremdheid voltooi, vir hom ‘n deeltydse mentor gekry en reëlings met sy skool getref om mondelinge eksamens af te lê. Elke disleksielyer assosieer met ‘n ander kleur om lees en skryf te vergemaklik; Kyle se kleur is blou. Al sy werksboeke is in blou gedruk en hy dra ook ‘n blou brilletjie.
“Ons is vol hoop. Mens moet nooit op jou kind opgee nie, en soek tot jy antwoorde kry. Dis nie ‘n gestremdheid nie, dis ‘n geremdheid wat beteken dit bemoeilik net die basiese lees- en skryftake. Vir ‘n kind wat gedruip het in die eerste en tweede kwartaal, om nou ‘n persentasie van 73 te behaal, is verstommend. Hou aan veg vir jou kind se regte, hy is dit werd,” voeg Kyle se ma by.
