Local newsNews

Kerk vier verjaarsdag en eer bejaardes

Senior lidmate van die Lydenburg NG-Suid Gemeente het nasionale Biddag vir Bejaardes gevier tydens 'n spesiale geleentheid in Oktober.

Aanwesiges is bederf met ‘n aansitete in die kerksaal. In die jaar waartydens die gemeente sy 50ste verjaarsdag vier, is die kerk bevoorreg om senior lidmate te hê wat sedert die ontstaan van die Suid-gemeente steeds by hulle is. JP Celliers deel ‘n paar kosbare herinneringe van hierdie lidmate. Hannie van der Merwe onthou Alwyn Botha, een van die eerste lidmate wat ook betrokke was in raadgewende hoedanigheid tydens die aanbou van die kerksaal in 1979, vertel dat ten spyte daarvan dat hy teenwoordig was met die eerste erediens, hy nou wel nie al die preke kan onthou nie, maar hy onthou wel dat daar elke jaar baie lekker basaar gehou is!

Wessie en Mattie de Kock onthou dat ds. AH Louw en Lampie van der Nest ‘n klompie staanhorlosies gemaak het en die fondse uit verkope daarvan is gebruik vir die kerk se “orrelfonds”. Oom Wessie is die trotse eienaar van een van hierdie staanhorlosies.

Nog ‘n persoon wat sedert die ontstaan van die gemeente ‘n lid is, is Gawie Maré. Hy vertel dat hy as kerkraadslid by die vergadering op 15 November 1969 teenwoordig was, waar besluit is om van die NG Moedergemeente af te stig en die nuwe NG Lydenburg Gemeente tot stand te bring.

Hy is die langslewende lidmaat wat by hierdie geleentheid teenwoordig was. Hy onthou ook die eerste diens wat waargeneem is deur ds. Louw in die laerskool se saal waartydens hy gesê het: “Ek het gekom om Jesus aan julle te verkondig”, “en dit is presies wat ds. Louw gedoen het,” vertel Gawie.

Môre en Saterdag bied die NG-Suid Gemeente weer hul jaarlikse Oesfees aan. Oudergewoonte sal daar vele aktiwiteite by die kerk wees, wat insluit die Warrior Race, vleisverkope en lekkernye, asook ‘n teetuin.

Met aanloop tot die 50ste verjaarsdag van die gemeente op 15 November, sal daar by verskillende openbare parke in die dorp 50 inheemse bome geplant word. Te viering van ‘n halfeeu se bestaan, sal daar ook op dié dag ‘n spesiale monument by die kerk onthul word, gepaardgaande met ‘n potjiekosgeselligheid. Almal is welkom om in te skakel by die kerk se verrigtinge.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button