Komati Voortrekkers reg vir tweede dekade
Komati Voortrekkers beywer hul vir die ontwikkeling van burgerskap in ons land, bely die Christelike etos en is trots Afrikaans

KOMATIPOORT – Tien jaar gelede het ‘n paar vriende en ouers vir wie geloof-, kultuur- en burgerskapsake van uiterste erns is, die Komatipoort Voortrekkers gestig. Die organisasie beywer hulle vir die ontwikkeling van burgerskap in ons land, bely die Christelike etos en is trots Afrikaans.
Die uittredende leier van die kommando, Maritza Uys, wat hierdie jaar al 19 jaar ‘n trotse Voortrekker is, het die plaaslike kultuurorganisasie behoorlik ontwikkel. Sy was een van die stigterslede. Ander stigterslede was Marita en Jan Engelbrecht, Jorietha Heymans, Danie en Jacoret Botma, André de Necker en Guss Davey.
LEES OOK: Backstage-rock-komati
Die 2019-bestuurspanlede saam met Uys was Nelie Diedericks en ds. Marita Engelbrecht. Die nuwe kommandoleier is een van die mede-stigterslede van 10 jaar gelede, Jan Engelbrecht, en die nuwe bestuur sluit Engelbrecht steeds in. Hy is benewens mede-stigterslid, self al 20 jaar ‘n Voortrekker is. Die ander nuwe bestuurslede is Susan van Dyk, administrasie en finansies, Eiwet Nel, administrasie en sekretariaat en Kevin Saunders, veldkornet van jeugsake.
Verlede week het die Komatipoort Voortrekkers die jaar afgesluit tydens ‘n kenmerkende paradeseremonie. Sowat 80 Voortrekkers het hulle graadwiele, kentekens en range ontvang. Daarna is daar, so eie aan ons kultuur, gebraai.
Hoe goed die Vootrekkerharte klop spreek uit die bywoning en deelname aan die laaste jaarkamp van die organisasie in Oktober. Die kamp is by RCL Foods se Komati Draai-terrein gehou.
Nege-en-sewentig penkoppe, drawwers en verkenners het die naweek in die opelug spandeer en mekaar, die natuur, hulle Skepper en hulself baie beter leer ken.
Die nuwe bestuur waardeer die voorbeeld wat die uittredende bestuur vir hulle gestel het. Die bestuur wil saam met die offisiere op hierdie goeie fondasie die staanplek van die kultuurorganisasie in Komatipoort verder ontwikkel. Belangstellende kinders en ouers kan enigeen van die nuwe bestuurslede of offisiere kontak.
