Local newsNews

Vliegongeluk van 16 jaar terug word steeds onthou

Vir joernaliste gebeur daar dinge in hul loopbaan wat vir altyd 'n blywende indruk op hulle laat. Die klanke, reuke, emosies en reaksies; elkeen speel 'n rol.

So ‘n dag was 12 November 2003 – vandag presies 16 jaar gelede. Dit was ‘n gewone nuusdag in Laevelder se redaksiekantoor.

Effense spanning was in die lug, want oor 24 uur is dit saktyd en daar is nog nie ‘n sterk voorbladstorie nie. Maar soos male sonder tal in die verlede, troos ons onsself: Moenie bekommer nie, iets sal gebeur. Min het ons geweet hoe drasties die oggend sowat ‘n uur later sou uitdraai.

Ek en kollega, Mara Horn, sit in die agterste kantoor. My foon lui. ‘n Rilling skiet deur my lyf. As hierdie kontak bel is dit nie om my vir koekies en tee te nooi nie.

LEES OOK: Long Tom Pass claimed the lives of 27 British tourists in 1999

“‘n Vliegtuig het in Krokodilpoort geval. Ons weet nog nie wat nie, ons is nog op pad. Dit klink na ‘n ligte vliegtuig,” skree hy bo die geraas van sy ambulans se sirene.

Ek ry nooit vinnig nie, behalwe in twee gevalle: as ek op pad is na ‘n misdaadtoneel en wanneer ek op pad is na ‘n ongelukstoneel. Op pad seil ons verby twee ambulanse wat ook onderweg is na die toneel.

Sowat 2 km verby die KaNyamazane-afrit kom ons om ‘n draai en moet vinnig rem aanslaan, want in die pad voor ons is die toneel. ‘n Paar polisievoertuie en ‘n ambulans is reeds daar.’n Swaar reuk van brandstof hang is die lug en bolle rook slaan op uit die bos langs die pad.

‘n Polisieman begin om ‘n lint oor die pad te span om mense weg te hou. Ek en Horn zits by hom verby.”Dis ‘n lugmagvliegtuig,” sê een van die polisieoffisiere. Brandweermanne skarrel rond om die brand onder bedwang te bring.

“Neem foto’s so vinnig moontlik voor hulle ons wegjaag,” sê ek vir Horn. Dit is eers toe ek die lyk langs die reling sien lê, bedek deur sy valskerm, dat die realiteit en die erns van die situasie inslaan.

Dit was ‘n Impala-vegvliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag wat reg langs die pad geval en in vlamme uitgebars het. Aan die anderkant van die pad lê ‘n vlieghelm in ‘n afvoersloot. Ons sou later uitvind dit is lt. Derek Duvenhage (22), ‘n leerling-vlieënier van 85 Gevegsvliegskool by die Hoedspruit Lugmag-basis.

Die Impala was op ‘n lae-hoogte taktiese navigasievlug toe dit skynbaar meganiese probleme ondervind het. Die vlieëniers het glo desperaat probeer om die vliegtuig te red, maar was in daardie stadium te laag. Beide het hulle uitskietstoele gebruik, maar dit was te laat.

Duvenhage is teen ‘n rotsbank geslinger en uit sy uitskietstoel geruk voordat die valskerm behoorlik kon ontplooi. “Waar is die ander vlieënier?” wou ek weet.

“Voor in daai trok,” kom die skokkende antwoord. Die instrukteur wat saam met Duvenhage gevlieg het, lt. Andy Martin (28) se valskerm kon ook nie ontplooi nie en hy het reg van voor deur die bak van ‘n afleweringslorrie getrek.

LEES OOK: Hard news journalist can’t forget 1999 Long Tom Pass crash

Hy is opslag dood toe sy been afgeruk en hy ernstige hoofbeserings opgedoen het. Hy het, steeds gegespe in sy uitskietstoel, agter in die vragmotorbak tussen ‘n klomp kruiwaens tot stilstand gekom.’n Rukkie later land ‘n Oryx-helikopter op ‘n klipplaat in die bedding van die Krokodilrivier.

Toe die bemanning hoor wie die slagoffers is, bars ‘n vroue-majoor in trane uit. Een van die bemanning druk haar vas en troos haar. ‘n Swanger stilte hang oor die toneel. Niemand skree of hardloop rond nie.

Dit is asof dit ‘n gewyde oomblik is. In stilte loop ek en Horn terug na die kar. By die geel-en-blou polisielint staan ‘n gros joernaliste van ander media. Hulle mag nog nie inkom nie. Maar ons was daar – eerste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button