Local newsNews

Let’s go 60/60 maak kinderharte bly

Leerders se gesiggies straal en volwassenes sluk aan knoppe in hul keel

LANGELOOP – Let’s Go 60/60 is ‘n organisasie gestig deur vrywilliges met ‘n passie om te gee aan minderbevoorregte kinders. Hulle kies elke jaar ‘n spesifieke skool waar hulle dan behoeftes bepaal en insamelings doen.

Hierdie jaar is Lomatidraai Primêre Skool, Langeloop, in die Onderbergdistrik, gekies. Tydens ‘n besoek aan die skool is 60 leerders geïdentifiseer wat skoolklere nodig het. So het hulle begin deur borge te kry vir die skooldrag. Lowveld Wholesalers het dit voorsien. Donasies van verskeie motorfietsryers en individue is verkry. Let’s Go het op hulle Facebook-blad geadverteer en ook mense bedank soos die skenkings ingekom het.

LEES OOK: komati-voortrekkers-reg-vir-tweede-dekade
Elke persoon het R500 geborg vir ‘n volledige stel skoolklere, wat insluit skoene, kouse, broek/romp en ‘n hemp. Met die balans van die geld is daar sanitêre produkte vir die leerders gekoop.


Verlede Vrydag het Let’s Go vir die eerste 30 leerders hul nuwe skoolklere gevat. Daar is vroegoggend vetrek uit Mbombela met sowat 10 motorfietsryers, ‘n voertuig met die klere en polisie-begeleiding. By die Engen Garage in Malalane het die res van die motorfietse by hierdie groep aangesluit. Daar was sowat 20 motorfietse in totaal wat die pad Langeloop toe aangedurf het. Dit was ‘n gesig om te beleef, want met behulp van die SAPD op hulle motorfietse is die verkeer beheer sodat die ryers in gelid en veilig oor verkeersligte en stopstrate kon kom. Loeiende sirenes het omstanders aan die gons gehad oor wat nou eintlik hier gebeur. Corridor Gazette was bevoorreg om hierdie geleentheid mee te maak en die kinders se gesigte wat hulle by die skool gegroet het.


By die skool is daar ‘n groot markiestent opgeslaan waaronder die borge, organiseerders, onderwysers, ouers en leerders gesit het. Die plegtigheid is geopen deur Freddy van der Ngoms, oftewel Sbu, waarna Shaun Brown van Eastview BMW en Sifiso Mhlango ‘n paar woorde gesê het. Een van die leerders het almal bedank vir die donasies en die hoof, Nozimbali Olivia Zitha, het haar dank ook uitgespreek. Hierna is die klere aan die leerders uitgedeel.


Een van die onderwysers het aangekondig dat daar ‘n inkleurkompetisie was en dat al die borge na die saal moes gaan om te gaan kyk. Groot was almal se verbasing toe hul in die saal kom en sien dat die skool ‘n vingerete voorberei het. Die dag is afgesluit deur lekkernye wat aan die leerders uitgedeel is.


Let’s Go is tans nog besig met insamelings vir klere vir die ander 30 leerders. As enigiemand belangstel om ‘n donasie te maak, kan hulle na die Facebook-blad, Let’s Go 60/60, gaan, of hulle kan Phia kontak op 082-397-6852.


Let’s Go wil hul dank oordra aan SAPD vir hul begeleiding, TRAC Nkomazi vir hul ondersteuning, Malelane SPAR wat verversings aan die motorfietsryers verskaf het aan die einde van die dag, en ook Eastview BMW vir T-hemde, aansteek van balkies en vir die ontbyt Vrydagoggend.

 

 


Die organiseerders van Let’s Go 60/60 is:
Freddy van der Ngoms (oftewel Sbu)
Shaun Brown
Phia Labuschagne
Bernadette Woodford
Anele May
TJ Maré.


Die polisie-begeleiding was:
Kapt. Pottie Potgieter
Kapt. Joey Potgieter
AO Christo Hills.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button