Local newsNews

Oudag se Johnston en Roets onthou

Wie onthou nog die meubelsaak, Johnston, Roets & Co. met hulle gebou en vertoonlokaal in Besterstraat, wat toe nog Nelspruit se middedorp was?

Johann van Zyl, ‘n plaaslike makelaar wat in die jare sestig hier in Nelspruit grootgeword het, onthou dat die ou Johnston & Roets ‘n glansende onderneming was wat in gehalte meubels en huisraad gehandel het.

As kind, toe vensterkoop, of soos die Engelse sê, “window shopping”, in die middedorp nog byval gevind het, was dit een van die plekke waar hulle as gesin kom kyk het. Veral rondom Kerstyd, want dan het al die winkels meegeding vir die prys vir die beste vensteruitstalling in Nelspruit.

Wie die here Johnston en Roets was het hy nooit geweet nie, maar hy verbeel hom die winkel het later in die hande van ‘n groep Afrikaner-sakemanne beland.

LEES OOK: Toe die inry nog groot skerm-vermaak was

Nog later is dit verander na Super Meubeleerders, wat op ander plekke ook takke gehad het, tot die onderneming hier in die jare sewentig sy deure gesluit het.

Een van die nasionale meubel-handelkettings, moontlik Lubners, het die gebou betrek. Vandag is dit steeds die tuiste van een van die vele meubelplekke in die ou middestad.

‘n Inwoner van Nelspruit, Raykie Barnard van die bekende familie Barnards van Rietspruit en Vergelegen uit op die Uitkykpad, op die breë sypadjie voor die gebou – ook iewers in die jare sestig. Hier lyk dit of die straatvlak van die gebou destyds meer as een winkel of vertoonlokaal gehuisves het.

Johann onthou ‘n mnr. Jordaan wat op ‘n stadium die algemene bestuurder hier was, en dat die onderneming later moontlik aan Laeveld Trust behoort het.

Moontlik kan lesers ons met meer inligting help. Kontak ons by marius@lowveldmedia.co.za.

Hier is enkele foto’s van die plek met sy oprigting en later as landmark in die middedorp. Die gebou was een van die vorige multiverdieping-geboue wat hier opgerig is.

Van die eerste parkeermeters in Nelspruit is in 1967 in Besterstraat voor die gebou van Johnson & Roets aangebring. Hierdie foto het destyds in die koerant verskyn van een van die eerste vroue in die dorp wat haar ‘n parkeerkaartjie op die hals gehaal het.

LEES OOK: Mbombela se beroemde druktenk dodekaedron

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button