Hondjie oorleef sonder kos en water in versteekte drein
'n Angsbevange hondjie is verlede week uit 'n 3 m-diep rioolpyp gered deur die vinnige optrede van twee vasberade helde.

Daar word geglo dat die klein hondjie, wat nou Troy genoem word, ten minste agt dae sonder kos of water in die versteekte drein vasgesit het.
Brian Zulu en Edward Khumalo, albei werknemers by die Witrivier DBV, het gesê dat hulle van Troy se lot te hore gekom het nadat lede van die gemeenskap hulle daarvan ingelig het.
“Lede van die gemeenskap het ons vertel dat hulle ‘n hond ondergronds hoor tjank het, en dat iemand probeer het om hom water en kos deur ‘n gat te gee,” het Zulu gesê.
LEES OOK: Teenager to conquer Everest for rhino awareness
Hy het bygevoeg dat hulle uit noodsaak vir Troy kos agtergelaat het, aangesien hulle hom eenvoudig nie kon bereik nie.
‘n Dringende reddingsoperasie moes beplan word. Die DBV het by die City of Mbombela-munisipaliteit hulp gevra omdat hulle spesialis-toerusting benodig het om die uitgeteerde hond te red.
Troy was teen die tyd so swak dat hy skaars sy kop kon lig.
Die drein was aan die een kant heeltemal geblokkeer en die munisipaliteit moes aan die ander kant ‘n bedekking afhaal om naby Troy te kom. Zulu het gesê dat hulle onverpoosd saam met die munisipale werkers gewerk het.
“Dit het ‘n halwe dag geduur voordat ons daarin geslaag het om ‘n gat groot genoeg oop te grawe sodat ons hom van bo af kon bereik.”
Hulle kon egter steeds nie die hond, wat bang was vir die mans, deur die opening kry nie, en moes nog ‘n gat aan die kant maak.
“Ons moes toe van bo af hang en hom stoot na die nuwe opening wat ons aan die oorkant van die drein gemaak het.”
LEES OOK: Nelspruit SPCA fun day proves a treat for all
Khumalo het bevestig dat Troy baie bang was vir hulle. “Dit lyk of hy mishandel kon gewees het, en hy het tjankgeluide gemaak en ons probeer byt.”
Dit het hulle egter nie verhinder om die dier te red nie. Met Laevelder se aankoms by die DBV Woensdag, was die hondjie nog duidelik getraumatiseer.
Annette Matthyse van die Witrivier DBV, het gesê dat hy binnekort beskikbaar sal wees vir aanneming, maar dat Troy net na ‘n baie spesiale huis sal kan gaan wat sy vrees vir mense sal verstaan.
