Museum diefstal ‘n slag vir inwoners van Barberton
Die diefstal beroof inwoners en besoekers van die geleentheid om meer oor die dorp se geskiedenis te leer

BARBERTON – Geskiedkundige artefakte is oor die naweek by die Barberton History and Mining Museum, ’n privaat museum in Barberton, gesteel.
Die eienaar van Dusty Tracks, Wynand Engelbrecht, het antieke boerdery- en mynimplemente aan die museum verskaf om uit te stal. Vier van dié items is Saterdag gesteel.
Barberton het ‘n veelsydige geskiedenis wat baie belangrik is vir die dorp. Die museum stal ‘n aantal items uit die
Victoriaanse era uit. Dié tydperk word deur vele beskou as die dorp se glorietyd, toe baie prospekteerders Barberton toe gekom het tydens die goudstormloop in die hoop op rykdom.

LEES OOK: Plaaslik-gebore skoonheid dra die kroon
“Die boosdoeners het verdwyn met twee enkelskaar-ploeë, die bokant van ‘n koekepan en die motor van die 1951
Opel wat deel was van ‘n uitstalling,” het Engelbrecht gesê.
“Dié soort diefstal is onnodig en ongerieflik, want dit beroof ander van die kans om die ryk geskiedenis van ons dorp eerstehands te ervaar. Dit sal heel moontlik as skroot verkoop word, want die geskiedkundige waarde oortref die geldwaarde by verre.”
Die items is redelik swaar, wat Engelbrecht laat glo dat dit dalk deur mense met toegang tot ‘n bakkie of trok gesteel is.
LEES OOK: Enorme toename in huisbrake
“Ons het die oorblywende ploeg gister gelaai, en dit het omtrent ses mense geneem om dit agter op die bakkie te kon kry. Die diewe het die items van Donderdag af begin verwyder en het nie alles op een slag geneem nie.”
Hy het bygevoeg dat die eienaar van Barberton Backpackers oorkant die museum dalk videomateriaal mag hê wat kan help om die diewe op te spoor.
“Sodra hy terug is van sy reis, sal ons hopelik kan sien wie is verantwoordelik vir hierdie diefstal.”
Engelbrecht het gevra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir enigiemand wat die items probeer verkoop en
gevra dat enigeen met inligting wat tot die terugbesorging van die items kan lei, hom kontak by 072-668-4063.
