Local newsNews

Nuwe Toyota RAV4 GX-R is meer avontuurlik en sportief

Toyota het baanbrekerswerk gedoen toe die eerste RAV in 1994 in Japan en Europa bekendgestel is, nadat die eerste konsepvoertuig in 1989 by die Tokio Motorskou onthul is.

‘n Verbeterde konsep is in 1993 getoon wat nader aan die produksieweergawe was.

Die filosofie agter die RAV (Recreational Active Vehicle) was om ‘n kompakte passasiervoertuig te skep wat oor viertrek beskik om in die veld te kan ry, maar terselfdertyd ook gerieflik op die teerpad kan rondrits.

Die RAV was toegerus met ‘n 2.0-liter petrolenjin en beskikbaar in twee- of vierdeurweergawes met handrat of outomatiese ratkas.

As klein ekonomies pretmobiel met ‘n prettige funksionele ontwerp, was die eerste RAV gewild onder die jonger geslag. Met die derde generasie het die “kompak” plek gemaak vir ‘n medium grootte gesinswa wat steeds op die grondpad kan baljaar, maar eintlik meer van ‘n krooskarweier diens gedoen het.

Die vierde generasie was selfs groter met nog minder sportiwiteit as die vorige generasie, en ligjare verwyder van die aanvanklike ontwerpfilosofie.

Die nuwe vyfde generasie RAV4 is vroeër vanjaar in Suid-Afrika bekendgestel, en ek het die 2.0 GX-R-model met vierwiel-aandrywing en ‘n CVT-outokas vir ‘n week onder hande gehad.

Hoewel steeds nie die aanvanklike klein pretmobiel van 20 plus jaar gelede nie, is die nuwe RAV4 GX-R definitief meer SUV as MPV en verseker meer avontuurlik en sportief as die vorige drie generasies.

ALSO READ: Eurol renews partnership with Toyota Gazoo

Die nuwe RAV4 GX-R AWD vertoon dinamies en aggressief met ‘n forse sierrooster. Die bakontwerp is byna hoekig met skerp lyne.

Die GX-R AWD-model blyk effe hoër te hurk oor die wiele om dan die pens ‘n bietjie meer te lig. Groter plastiekbeskerming om die wielboë, asook voor en agter onder die buffers vir die inval- en vertrekhoeke se moontlike stampe, beklemtoon die GX-R se forser voorkoms verder. As geheelbeeld vertoon die nuwe RAV4 GX-R vir my treffend en doelmatig.

Binnekant beïndruk die nuwe RAV4 met uitstekende afwerking en materiale van hoogstaande gehalte. Die ambiance in die kajuit vergelyk baie goed met kompeteerders uit Duitsland.

Die voorpaneel is prakties, ergonomies goed uitgelê en vertoon modern. In GX-R-gewaad word die nuweling standaard baie goed toegerus. Middel bo in die voorpaneel is ‘n seweduim-raakskerm waarop alle kommunikasie-, klank- en voertuiginligting asook satnav en tru-kamerabeelde vertoon word.

Die kajuit is ruim en bied gerieflike sitplek aan vir tot vyf passasiers, met die agterste insittendes wat gemaklik kan sit met meer as genoeg been-, knie-, skouer- en kopruimte. Verder is daar praktiese sowel as nuwerwetse katoeters, asook genoeg stoorplek vir alledaagse gebruikersgoedjies soos bottels, sleutels en selfone.

Toyota het die nuwe RAV4 GX-R ook goed toegerus in terme van veiligheid. Daar is sewe lugsakke, ABS met elektriese remverspreiding, remhulp, heuwel-af beheer, stabiliteitsbeheer, glybeheer asook beheer wanneer die sleepwa buite beheer wil swaai.

Die 2019 Toyota RAV GX-R is toegerus met ‘n 2.0-liter viersilinder-petrolenjin sonder turbokrag, wat krag na al vier wiele stuur met behulp van ‘n palwissel (CVT) outomatiese ratkas. Die enjin lewer maksimum 127kW en 203Nm wringkrag. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 6,7 liter/100km in ‘n gemengde siklus van stadsverkeer en ooppad-ry.

Ek was beïndruk met die nuweling se padgedrag en ritgehalte op die teer, asook die lae vlakke van wind en enjingeraas in die kajuit teen togsnelhede. Die GX-R het heerlik hanteer met ‘n soliede gevoel van veiligheid wat meer tuis is by veel luukser, duurder en swaarder SUV’s.

ALSO READ: Connect for a more mobile Toyota/Lexus

Dit was egter op die grondpaaie waar die RAV4 my verbaas het met baie goeie greep, balans en ‘n uiters gesofistikeerde ritgehalte, selfs op sinkplaatgedeeltes.

Terwyl die GX-R-model krag deur al vier wiele na die pad stuur, is die RAV4 eintlik meer van ‘n stoftrapper (soft roader) as ‘n veldryer. ‘n Beheerknop laat die bestuurder toe om tussen verskillende ritmodusse te kies, waaronder sand en modder of klip en gruis, na gelang van die terrein.

Ek het ons toetsmodel behoorlik beproef op al die terreine en was verstom oor hoe gemaklik die GX-R klippe kon klim en die dik, los sand van die Weskus en Sandveld baasgeraak het, danksy die nuwe meganiese viertrekstelsel wat oor dinamiese wringkrag verspreiding beskik.

Die stelsel kan die agteras uit die viertrekstelsel “ontkoppel” wanneer nodig of net die linker- of regterwiel “uitskakel” wanneer nodig.

Die RAV4 GX-R AWD is ‘n uitstekende voertuig en ek is van mening dat, sou Toyota die 2.4-turbodiesel in die GX-R kon vasbout, baie Fortuner-kopers veel eerder die RAV4 sou koop.

Die nuweling se binneruim is vir my persoonlik netjieser ontwerp, beter uitgelê en meer modern. Verder voel die kajuit vir my net so ruim as dié van die Fortuner, maar die gehalte van die materiale en afwerking in die nuwe RAV4, skep ‘n ambiance van luuksheid waaraan die Fortuner gebreke gaan.

ALSO READ: 4×4 club follows the Ossewa trail

Die nuwe RAV4 GX-R AWD voel Europees, selfs Duits waar die soliditeit van die deure, die manier hoe sag en netjies die deure oop- en toemaak, soortgelyk is as die veel duurder Duitse kompetisie. Kortom, die RAV4 GX-R is myns insiens die beste kopie in hierdie hoogs mededingende segment.

Gaan toetsbestuur een by jou naaste Toyota-handelaar, jy sal dalk met een wil huis toe ry.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button