Local newsNews

Waarmee hou een van ons bekende oud SAPD lede hom deesdae besig

Alhoewel Piet van Zyl nogsteeds die wêreld deurkruis geniet hy tyd saam sy gesin en ou vriende by hul gastehuis in Mbombela om 'n vuurtjie of 'n eksotiese gereg wat hy in een van die vele lande waar hy was geleer saam slaan het.

KOMATIPOORT – Corridor Gazette volg die spore van een van ons legendes van die Onderberg.
In die 70’s en 80’s was hy ‘n misterie vir almal wat hom geken het. Daar is altyd gewonder oor wat hy doen en waarmee hy nou weer besig is. Hy is steeds ‘n raaisel vir menigte Onderbergers. Een feit staan soos ‘n paal bo water. Die wat hom ken het die hoogste agting vir oud-veiligheidsman Piet van Zyl.

LEES OOK:bokse-vol-hoop/

Van Zyl is gebore en getoë in die Vrystaat. In 1971 sluit hy aan by die Suid-Afrikaanse Polisie. Dit was maar van kindsbeen af ‘n begeerte om polisieman te word. In 1973 loop hy ‘n teeninsurgensie-kursus deur en dien amper vier maande in die destydse Rhodesië tydens die bosoorlog daar.
Hy dien aanvanklik in die Uniformtak en word later oorgeplaas na Suid-Afrikaanse Narkotikaburo, ‘n eenheid in die polisie wat dwelmverwante misdrywe ondersoek het.
In 1975 ontvang hy ook opleiding by die British South Africa Police en Rhodesian Light Infantry in die destydse Rhodesië en vorm deel van Police Anti-Terrorist Units wat in die noordooste van Rhodesië ontplooi word.


In 1979 word Van Zyl verplaas na Komatipoort en dien aanvanklik in die speurtak op Komati. In 1981 word hy oorgeplaas na Veiligheidstak Lebombo en dien etlike jare op die grensdorp. Hy deurloop verskeie kursusse en opleidingsgeleenthede wat deur die SAPD aangebied is, waaronder ook ‘n bomopruimingskursus. Hy ondersoek verskeie terreurdade in die tydperk en skakel deurlopend met die polisie in Mosambiek rakende oorgrensmisdade.
Van Zyl speel ook ‘n hele paar jaar vir Komati Rugbyklub.

In 1989 word hy bevorder na luitenant en verplaas na Nelspruit as veldwerker. Hy ondergaan weer eens verskeie kursusse en opleidingsgeleenthede. In 1993 word hy bevorder tot majoor en aangestel as takbevelvoerder van Nelspruit Veiligheidstak.


Hy neem deel aan verskeie operasies in Mosambiek waartydens groot hoeveelhede wapentuie en landmyne vernietig word. Een van die operasies kry later internasionale erkenning as “Operasie Rachel” en verskeie opvolgoperasies in die verband volg daarop. Na 1994 raak hy betrokke by verskeie samesprekinge in die Laeveld om vrede te bewerkstellig tusssen strydende faksies in Bosbokrand, die Laeveld en die Onderberg.


In 1995 word hy daarvan beskuldig dat hy persone sou opgelei het om onder andere ‘n LUR van veiligheid en sekuriteit te vermoor. Na maandelange ondersoek en nadat die prokureur-generaal by twee geleenthede geweier het om hom te vervolg op enige aanklagte, verlaat hy die SAPD in 1996.
Daarna swerf en werk hy vir 20 jaar in onderskeidelik Angola, Uganda, Mali, Tanzanië en Mosambiek as sekuriteitskonsultant.


Hy is getroud met Rina en het drie kinders, twee dogters Liezl en Tanya, en seun Johan bekend as “Uganda” of “Ugie”. Johan het Piet se rondritsstreep geërf en neem toeriste op fotografietoere regoor die wêreld.
Piet en Rina bedryf tans ‘n gastehuis Beetleloop in Mbombela, en alhoewel hy nog steeds die wêreld deurkruis, geniet hy dit om ou vriende te onthaal en kos te maak vir familie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button