Beweerde verkragters verskyn in hof
'n Man (37) en 'n vrou (22) van Komatipoort word aangehou na 'n saak van beweerde verkragting teen hulle aanhangig gemaak is.

Die saak het Dinsdag by die Komatipoort Landdroshof voorgekom en is uitgestel na 26 November.
Die 17-jarige vermeende slagoffer, ‘n skooldogter, het op aandrang van haar ouers met die koerant gesels. Sy het vertel dat sy verlede Saterdagmiddag langs die pad gestaan het, toe die beskuldiges langs haar stilgehou het en haar ‘n geleentheid aangebied het.
Die twee was heeltemal onbekend aan haar. Sy het gekla dat sy sukkel met haar selfoon en hulle het aangebied om haar tuis daarmee te help. Sy het saam met hulle in die motor geklim en na hulle woonplek gegaan.
LEES OOK: Enorme toename in huisbrake
Sy vertel dat hulle tuis aan die gesels geraak het. Die beskuldigdes kon nie haar selfoon herstel nie en het haar tussentyds ‘n ander gegee. Daarna het hulle haar by die huis gaan aflaai en afgespreek om die twee fone vroeg die Sondagoggend weer te ruil.
Die volgende oggend om 08:00 het hulle haar by haar ouerhuis kom oplaai en gewag dat ‘n plaaslike drankwinkel oopmaak waar hulle bier gekoop het. Die drie het toe daar naby in die motor gedrink.
Later het die vrou voorgestel dat hulle na die ou laagwaterbrug gaan. Hier het die man weer vir die dogter ‘n bier aangebied wat hy reeds oopgemaak het. Kort hierna het sy deurmekaar gevoel en met haar kop op die vrou se skoot gaan lê.
Sy vertel dat die vrou haar begin soen en betas het en die man haar vasgedruk het voordat sy haar bewussyn verloor het. Toe sy dit herwin was hulle reeds op pad om haar te gaan aflaai. Sy beweer hulle het haar met die dood gedreig sou sy iemand van die gebeure vertel.
LEES OOK: Is dit ‘n misdaad om ‘n ander aan te stig om selfmoord te pleeg?
Die pa van die slagoffer vertel dat hy die indruk gekry het dat sy dwelms gebruik het toe sy tuisgekom het. Hy het haar pupille getoets, maar die reaksie was normaal.
Die dogter het later die dag ‘n boodskap oor die voorval aan ‘n vriend gestuur. Hy het die ouers gekontak en hulle gesê dat daar fout was.
Daarna het sy haar ma in haar vertroue geneem en haar die blou kolle oor haar hele liggaam gewys. Die ouers het die saak by die polisie op Komatipoort aangemeld, waarna die twee in hegtenis geneem is.
Die ouers het die dogter toe na Tonga Hospitaal geneem vir toetse en ‘n ondersoek.
Die beskuldigdes bly in aanhouding.
