Skenking verander Els-gesin se lewe
Charlene Els kruip sommer dadelik in almal wat haar ontmoet se harte.

MBOMBELA – Handomkeer. So het Charlene Els se gesin se lewens verander toe hulle onlangs ‘n hidroliese hospitaalbed en spesiale rolstoel van vrygewige skenkers ontvang het.
Charlene is na geboorte met serebrale parese gediagnoseer, wat die dele van die brein affekteer wat beweging, balans en postuur beheer.
LEES MEER: Sewe kersies op die koek vir Charlene Els
Met die nuwe bed kan sy makliker sit of plat lê – totsiens, duisende kussings – en in die bed op wiele in haar kamer rondbeweeg.

In die rolstoel kan sy gemaklik sit en oral rondbeweeg.
Hoewel sy reeds so ‘n stoel het, hou hulle dit by die dagmoeder wat weeksdae na Charlene omsien sedert sy ‘n babatjie is.
Tot nou moes haar ouers by die huis pure mannekrag gebruik om klein Charlene in die huis rond te help beweeg, vertel ma Bianca.
Die skenking is te danke aan Skankane Transport, maar is deur Pediatric Care Africa, onder die aanvoering van Melany van der Merwe, gedryf.
Pediatric Care Africa se dr. André Hattingh het ook baie gehelp om Charlene by addisionele mediese kenners uit te kry – onder meer ‘n dieetkundige en pediater.
Sy ontvang ook weekliks arbeids- en fisioterapie en sal volgende jaar spraakterapie hervat.
Die Els-gesin reël deurlopend fondsinsamelings vir Charlene. Haar doeke en melk is uiteraard baie duur.
Hou Laevelder dop vir meer inligting daaroor.
SIEN OOK: Drie operasies uit 1 000 vir Pediatric Care Africa
