Home for paws ask for much needed donations
Dink jy dat jy daardie kledingstuk wat jy twee jaar tevore gedra het, en wat nou jou kas volhang, weer gaan dra, of dat daardie gordyne wat vergete in die kas weggepak is, weer opgehang sal word?

Nee wat. Gooi dit uit, want jy sal nie onthou om dit te gebruik nie, en skenk dit aan Home 4 Paws se welsynswinkel. Hier kan jou ougoed mooigoed word of van waarde wees vir diegene op soek na ‘n winskopie, of wat nuwe ware nie kan bekostig nie.
Home 4 Paws is dringend op soek na voorraad vir die winkel. Geld wat by die winkel geïn word, word gebruik vir die Home 4 Paws-diereskuiling om hondekos aan te koop en die skuiling se immerstygende veeartsrekening af te betaal. Cathy Schutte se onbaatsugtige diens aan verlore, verwaarloosde of agtergelate vierpotiges is welbekend in die dorp. Die gemeenskap word gevra om haar in hierdie saak te ondersteun.
Bring daardie ou ketel, strykyster (in werkende toestand, darem), eetgerei, opskepskottels, klere, handdoeke en alles wat in jou pad staan, en ondersteun ‘n goeie saak. Die welsynswinkel (Home 4 Paws Charity Shop) is in die Cashbuild-sakekompleks geleë.
Op Saterdag 29 November word alles in die winkel teen R5 verkoop. Maak ‘n nota hiervan, want dalk ontdek jy ‘n skat.
