Local newsNews

Nellies doen weg met tradisionele leerlingraad

Laerskool Nelspruit het besluit om vanaf 2020 die tradisionele leierskapsmodel af te skaf en dit te vervang met ‘n kindervriendelike model wat elke kind die geleentheid bied, om onder leiding van ‘n span onderwysers, hul potensiaal te ontwikkel.

MBOMBELA – “Dit is die beste ding naas ‘n grondboontjiebotter-en-konfytbroodjie vir ‘n laerskoolkind,” sê Laerskool Nelspruit se hoof, Arrie Henn, oor die skool se besluit.

“Dit is wat laerskole behoort te doen,” sê Henn. “Die hoërskole gaan die voordeel daarvan trek omdat daar nou uit ons skool 150 kinders blootgestel gaan word aan leierskapsontwikkelingsprogramme en nie soos in die vorige model slegs 30 kinders nie.”

In die verlede is ‘n leerlingraad van 30 gr. 6-leerders deur hul maats en onderwysers gekies – 15 seuns en 15 dogters, met hoof- en onderhoofleiers. Nie meer nie.

Volgende jaar sal al die gr. 7’s by diensrade betrokke wees.

“Dit gaan oor diensbaarheid,” sê hy. “En die unieke model is ouderdomstoepaslik.”

KYK: Laerskool Nelspruit ‘kaskar’ day

Die skool se opvoedkundige kindersielkundige, Betsie Swanepoel, sê laerskoolkinders moet soveel moontlik geleenthede gegun word om te ontwikkel. Hulle betree uiteraard dan eers puberteit.

“Party ontwikkel eers later in die jaar. Teen die middel van gr. 7 het hulle opgevang met hul maats, maar dan is hulle reeds buite die tradisionele leierstelsel.”

Henn voeg by: “Tye het het aanbeweeg – die alfa-generasie kinders met hul millennial-ouers dink en doen anders. Die beste manier om ‘n laerskoolkind se leierskap te ontwikkel, is om hom eers te laat inkoop in diensbaarheid.

“Een mens wat dink dat net hy oor die reg beskik om ander te lei, verteenwoordig ‘n uitgediende stelsel. Daardie dae is verby.”

SIEN OOK: Nellies-harmonië verower harte

Hy vertel dat die skool se diensrade nog altyd bestaan het uit ‘n wonderlike groep kinders, “maar daardie sestiende dogtertjie wat net-net nie gekies is nie, het net soveel potensiaal as die 15 wat gekies is. Dit is hartseer, as een maatjie dit maak en die ander een nie, of die een tweelingsussie in die leerlingraad is maar die boetie nie.

“Ouers besef nie dat kinders al in gr. 4 spanning begin ontwikkel daaroor of hulle goed genoeg is of die regte dinge doen om in gr. 6 tot die leerlingraad verkies te word nie.

“Dit lei onder andere tot groepiesvorming en kinders wat allerlei ontoepaslike dinge doen net omdat hulle ‘n balkie wil kry in gr. 7.

“Party voel hulle moet selfs so ver gaan om hul persoonlikhede aan te pas om in die regte groepies in te pas.

“Nou kan hulle net hulself wees.”

Dit was meer as ‘n vierjaar lange proses om Nellies se eie nuwe unieke model te verfyn met behulp van deskundiges op die gebied van leierskapsontwikkeling in die laerskool.

Die skool steek gereeld by ander regoor die land kers op oor allerlei aspekte wat hulle dan ontwikkel en aanpas om die skool te bestuur.

SIEN OOK: Nellies se o/9’s bring die beker huis toe

“Ons woon in ‘n konserwatiewe, plattelandse gemeenskap en is baie dankbaar dat al die rolspelers ingekoop het in hierdie nuwe model,” sê Henn.

“Dit is die regte besluit op die regte tyd.”

Die oorgrote meerderheid ouers, kinders, beheerliggaam en onderwysers steun die nuwe stelsel.

Die nuwe beleid bied die kinders die geleentheid om self te kies op watter vier van die 10 diensrade hulle wil dien. Hulle kon selfs kies of hulle hoegenaamd deel daarvan wil wees.

“Elke kind in gr. 6 het egter aangedui dat hulle deel wil wees,” sê Swanepoel.

Die diensrade is dissipline, gasvryheid, projekte, media, kommunikasie, terreindiens, bemarking, veiligheid, sport en kultuur.

Hulle sal elke kwartaal tussen die rade roteer, en elke vier weke self twee nuwe voorsitters aanwys wat leiding sal neem.

LEES OOK: Nellies kraai koning by Topskole Swemgala

Swanepoel het die kurrikulum uitgewerk waarvolgens die leerders se vaardighede regdeur die jaar ontwikkel sal word. Hulle sal beurte maak om werk te delegeer, vergaderings te hou en op die koop toe vier persoons- en leierskapsontwikkelingsgeleenthede deur die loop van die jaar bywoon wat deur professionele persone, wat kundig is op die toepaslike ouderdomsgroep, aangebied sal word.

Diensraadvoogde is ook uit die personeel aangewys om aan die leerders die nodige leiding in die aktiwiteite, wat op die portefeulje van toepassing is, te gee.

Elke gr. 7-kind kry ook ‘n unieke Nellie-gholfhemp om hulle te onderskei van die res van die skool.

“Elke kind moet weet dat hy belangrik is. Skole moet as bakens van hoop gevestig word vir al jou mense. Hoe anders kan jy dit doen as om al jou kinders die geleentheid te bied om ‘n aandeel daarin te hê, om in die groter konteks van die skool, ‘n verskil te maak?” sluit Henn af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button