Plaas diefstal ruk hand uit in Burgersfort en omliggende dorpe
Diefstal van spilpunt-motors op plase is 'n nuwe tendens wat kop uitsteek en begin handuit ruk. Dit het boere al duisende rande uit die sak gejaag.
In een aand is meer as 50 spilpuntmotors op verskeie plase in Lydenburg gesteel, terwyl boere in Burgersfort dieselfde probleem ervaar. Maar hierdie is nie sommer enige skelm nie; dié kwaaddoeners is kieskeurig oor wat hulle steel. Dit blyk asof hulle kennis dra oor watter gereedskap om te gebruik om die motors te steel, asook hoe die spilpuntstelsel self werk. Op die Steelpoort-afdraai wat aansluit by die R37 het verskeie boere deurgeloop, en agt motors is in een aand daar vasgelê. By een boer is ses motors gesteel en by ‘n ander, twee.
Lees meer: Potloodspruit plaasaanval: Boer sterf
Boere wat vir veiligheidsredes anoniem wil bly, het aan Steelburger/Lydenburg Nuus gesê hulle vermoed die kwaaddoeners weet presies waarna hulle soek en hoe om dit te kry. ‘n Boer wat onder die diewe deurgeloop het, het een oggend al sy spilpuntmotors netjies langs mekaar teen die wiele van die spilpunt gepak gekry. Dit was reggesit om opgelaai en weggery te word.

Om een motor, wat in ‘n staalomhulsel met boute vasgemaak is, te vervang, beloop ongeveer R7 000. Hoewel dit nog nie vantevore nodig was om dit toe te sluit of op ‘n ander manier te beveilig nie, meen boere hulle sal dit nou moet oorweeg.
Plaasaanvalle neem toe: Ses gewapendes slaan toe op plaas
Trekkerbatterye is ook ‘n gewilde teiken waarop boosdoeners fokus. ‘n Battery kan tot R2 000 kos. Meeste boere in die vallei is gewoond aan die veilige omstandighede waarin hulle al jare boer en leef. Sommige trekkers en ander masjinerie word oornag buite erwe gestoor wat die gulde geleentheid vir diewe skep om batterye te verwyder sonder om opgemerk te word.

‘n Familieboerdery wat onder beide spilpuntmotor- en batterydiefstal deurgeloop het, is ook ‘n verdere nekslag toegedien toe twee van hul stoet Bonsmarabulle doodgekap en die vleis gesteel is. Volgens die boer was dit ‘n wreedaardige slagting.
Alle sake is by die Burgersfort SAPD aangemeld, en word tans ondersoek.
