Kaptein vier 36 jaar van trotse diens in die SAPD
MBOMBELA - Hy is 'n geharde polisieman, 'n ongelooflike onderhandelaar, mal oor spoed en diep gelowig. Maar kapt. Pieter Smit was nog nooit in sy lewe so hartseer en geskok as die dag in 2013 toe hy hoor sy broer, Bruwer, is vermoor nie.

“Jy werk daagliks met dramatiese misdaad en jy dink jy raak imuun teen alles,” vertel hy. “Maar om te hoor iemand so naby jou is ‘n slagoffer van misdaad, is ongelooflik erg.”
Smit, bevelvoerder van die blitspatrollie in die Laeveld en ook gesoute gyselaarsonderhandelaar, het pas sy 36ste jaar in die polisiediens gevier. Sy broer, ‘n sersant in die blitspatrollie in Gauteng, is vermoor terwyl hy met sy bergfiets gery het.
“Elke dag as jy as polisieman werk toe gaan weet jy nie of jy daardie aand huis toe gaan kom nie. En dit is wat Bruwer se moord vir my soveel erger gemaak het, juis omdat hy gaan ontspan het en nie misdaad gaan bekamp het nie.”
Smit het sy eerste tree in uniform gegee toe hy in 1983 by die piepklein polisiekantoortjie op Sishen naby Thabazimbi ingesweer is. Hy wou eintlik ‘n prokureur word, maar in matriek het hy harder aan sy sport gewerk as sy akademie, spot hy.
Omdat hy nie universiteits-vrystelling gekry het nie, het hy maar sy tweede roete, die polisie, gevolg. Deur sy hele loopbaan het hy na nuwe uitdagings gesoek.
Daarom het hy elke geleentheid wat oor sy pad gekom het, aangegryp. Hy het onder meer ‘n instrukteur in die polisie geword, die taai kursusse voltooi wat deur die taakmag aangebied is en homself as ‘n gyselaarsonderhandelaar bekwaam.
LEES OOK: Gewilde Kersloffees skitter met sterre vir welwillendheid
Hy is al verskeie kere in sy loopbaan beseer. Soos die dag toe ‘n handgranaat na hulle geslinger is. Dit het twee meter agter hom ontplof en hy is deur verskeie stukke skrapnel getref. Daar is nou nog stukkies skrapnel in sy lyf wat nie destyds verwyder kon word nie.
“Ek kan met trots sê ek het nog nooit iemand in ‘n gyselaars- of selfmoordpoging verloor nie. Dis ‘n uitmergelende situasie waar ‘n mens moet kophou. Een verkeerde stap, en dit kan ernstige gevolge inhou, nie net vir die slagoffer nie, maar vir jou ook.”
Sy eerste suksesvolle gyselaars-onderhandeling het gekom twee dae nadat hy die kursus voltooi het. Vier mans het ‘n roof by ‘n winkel in Standerton uitgevoer. Die rowers is betrap, een het ontsnap en die ander drie het 21 mense in die winkel gyselaar gehou.
Smit kon daarin slaag om die leier om te praat om homself oor te gee. Die ander twee is in die gebou se plafon deur die taakmag oorval. “Niemand is beseer nie. En dit is waarna elke onderhandelaar streef.”
In ‘n ander voorval wat hy baie goed onthou, het hy Johan Heunis, toe adjunkverkeershoof van die Mbombela-munisipaliteit, na ‘n strawwe onderhandeling van etlike ure oortuig om homself nie te skiet nie.
Heunis het die dag in Julie 2013 ‘n kollega, Michelle Curgeven, doodgeskiet, en daarna gedreig om homself te skiet. Smit kon Heunis oortuig om hom in die huis in te laat en hy het aangesig tot aangesig met hom gepraat.
“As jy die verkeerde ding sê of doen, kan die persoon homself, of vir jou, doodskiet,” sê Smit. Ten spyte van sy dagtaak, is Smit ‘n ywerige sportman. Hy speel tans gholf vir die polisie en gaan volgende jaar aan die SAPD se bergfietskampioenskappe deelneem.
Hy het raad aan jongelinge wat ‘n loopbaan in die polisie wil volg: “As die geleentheid hom voordoen, doen dit.
“Daar is ‘n legio loopbaan-geleenthede in die SAPD. Dit is nie soos in die ou dae waar jy deur die range moes werk nie. Jy kan spesialiseer in enige rigting waarin jy belangstel.”
LEES OOK: Maak ‘n verskil by Bateleur se liggiefees.
