Die verskil tussen vervalsing en uitgifte as ‘n misdaad
Vervalsing en uitgifte het verskillende misdaadsomskrywings en word soms verwar, maar beide is ‘n vorm van bedrog en ‘n misdaad.
MBOMBELA – Daar het 668 insidente van kommersiële misdaad, wat bedrog, vervalsing en uitgifte insluit plaasgevind in Mbombela, volgens die misdaadstatistieke van die Nelspruitse polisie.
Vervalsing word gepleeg as iemand wederregtelik ‘n valse dokument opstel met die doel om te bedrieg, en hierdie optrede aanleiding gee tot werklike of potensiële nadeel vir iemand anders.
Uitgifte, aan die ander hand, word gepleeg as ‘n persoon wederregtelik ‘n vervalste dokument aan iemand anders aanbied of toon met die opset om te bedrieg, tot die werklike of potensiële nadeel van die ander.
LEES OOK: Four appear in court on fraud and theft charges
‘n Dokument is nie net vervals omdat dit onware bewerings bevat nie; ‘n Dokument is vals wanneer dit voorgee om iets anders te wees as wat dit in werklikheid is.
Dit kan verskeie vorme aanneem, soos in die geval as dit ‘n nabootsing van ‘n ander dokument is, of as dit valslik voorgee om deur iemand anders as die werklike skrywer opgestel te gewees het. Dit kan ook neerkom op ‘n dokument wat gewysigde inligting bevat, wat dit nie oorspronklik bevat het nie.
Die verskil tussen bedrog en vervalsing is dat die bestaan van potensiële nadeel as ‘n element in die geval van vervalsing, reeds op ‘n vroeëre stadium aangeneem kan word, sodra die dokument vervals word.
LEES OOK: High ranked court official arrested for fraud and corruption
In die saak van (JOUBERT 1961 (4) SA 196 (O)) gaan Joubert na ‘n winkel met ‘n brief wat hy self geskryf het en waardeur hy beweer die inhoud daarvan deur Willie Nicol geskryf was. Die skrywe beweer dat Nicol sal betaal vir die goed wat Joubert wil hê.
Joubert word skuldig bevind aan vervalsing en uitgifte want die brief gee voor om iets te wees wat dit nie is nie. Die hof sê met die brief was daar potensiële nadeel vir Willie Nicol en werklike nadeel vir die winkelier.

Uitgifte as ‘n verskyningsvorm van bedrog het die opset om te bedrieg en het die nadeelsvereiste in gemeen met gewone bedrog. Die verdere vereiste dat daar ‘n vervalste dokument moet wees, is dieselfde by vervalsing. Daar is egter een verdere vereiste by uitgifte anders as by vervalsing, naamlik dat die dokument aangebied of getoon moet word aan iemand anders.
