Opknapping van die sokkerbal begin
Dié twaalfkantige watertoring is tydens die FIFA Sokker-wêreldbekertoernooi in 2010 soos 'n sokkerbal geverf deur Wouter de Witt, 'n plaaslike kunstenaar.

MBOMBELA – Die plaaslike toerisme-organisasie, LTO, in samewerking met die Mbombela plaaslike owerheid en ander borge, is hard besig om die bekende sokkerbalwatertoring in Steiltes te omskep in ‘n toerisme-baken vir plaaslike inwoners sowel as besoekers aan die dorp.
Na nege jaar van wind en weer het die landmark verwaarloos begin lyk en ‘n plaaslike sakeman, Cobus Tomlinson, het saam met die LTO besluit om in te spring en die nodige onderhoud- en herstelwerk te doen.
Hulle het met die plaaslike owerheid en borge onderhandel, en die projek het begin.
Volgens Linda Grimbeek, bedryfshoof van die Kruger-Laeveld Sake- en Toerismekamer, word daar goeie vordering gemaak. Die verfwerk is amper klaar en die inligtingsborde is herstel. Sekuriteit is opgeknap en ‘n houthuis is opgerig vir sekuriteitswagte. Daar word ook weekliks skoongemaak.
LEES OOK: Die Laeveld-gemeenskap se omgee het 2019 opgesom
Sy sê daar is nog groot planne in die pyplyn.
“Die sokkerbal gaan afgekamp word en daar sal toegangsbeheer wees om seker te maak dat die gebied veilig en skoon is vir besoekers wat graag die asemrowende uitsig wil geniet.
Die munisipaliteit het onderneem om die toegangsroete te herstel en vuilgoeddromme te voorsien. Daar gaan ook bykomende borde met inligting aangebring word wat inligting verskaf oor die gebied.
“As LTO is dit ons werk om ons dorp as ‘n toerismebestemming te bemark. Ons ontvang baie saketoeriste in ons dorp en ons wil baie graag hê hulle moet ‘n dag langer bly en geniet wat ons dorp het om te bied.
Die opknap van die sokkerbal is maar die eerste van baie projekte wat ons in die verband beplan. Ons sien baie uit daarna om die gemeenskap in te lig oor die vordering wat ons maak,” sê Grimbeek.
LEES OOK: Kaptein vier 36 jaar van trotse diens in die SAPD
