Onderberg se geliefde koeksistertannie bak al 40 jaar
"Ek het so deur die jare bietjie van dit bygevoeg en bietjie van daai weggegooi"

KOMATIPOORT – Vir die afgelope 40 jaar bak sy koeksisters. Corridor Gazette het gaan kennis maak met Maria Badenhorst. Hierdie is een van die ware legendes in die Onderberg.
LEES OOK:guardian-angels-bederf-seniors-met-kersete
Maria en Ben Badenhorst het in Augustus 1979 in Komatipoort aangekom. Hy het vir die destydse spoorweë gewerk as ‘n treindrywer. Hulle vertel dat Komati daardie jare slegs ‘n spoorwegstasie met ‘n paar gesinne was.
Maria het aan en af vir dr. Jan Maree, die distriksgeneesheer, gewerk. Ben het in 2004 ‘n groot hartoperasie gehad en is afgelê weens sy gesondheid. Maria maak in 2012 klaar by Maree.

Sy vertel dat sy sedert hul aankoms in Komati koeksisters gebak en verkoop het. Na haar aftrede in 2012 het sy egter voltyds begin bak. Daar word tans tussen 50 en 100 dosyn koeksisters ‘n week gebak, afhangende van bestellings.
Sy voorsien aan verskeie kettingwinkels in die Onderberg asook aan sekere van die winkels in die Nasionale Krugerwildtuin. Maria vertel dat ‘n ou bekende van Malalane, Eunice Tecklenburg, een van haar eerste kliënte was en dat sy vir die afgelope 40 jaar steeds gereeld bestel.

Soos met alle bobaasbaksters bly die resep ‘n geheim. “Ek het so deur die jare bietjie van dit bygevoeg en bietjie van daai weggegooi, maar die basiese resep is een wat ek in 1974 by ‘n vriendin gekry het. Die bakkery het my twee kinders se studies betaal. Ek bly dankbaar vir die Onderberg se ondersteuning, want alhoewel die kinders nou groot en uit die huis is, bly hierdie geldjie dit wat ons aan die gang hou. Ek dank ook ons Hemelse Vader vir ons gesondheid. Deesdae bak Ben saam sommer om fiks te bly,” vertel Maria.
Sy kan gekontak word by 072-267-9346 vir bestellings.
