Local newsNews

Bejaardes in Komatipoort aangeval

Man erg beseer na hy verbete teen diewe veg

KOMATIPOORT – Vir die derde keer in minder as ‘n jaar het Theuns Botha (79) en sy vrou Franci (80) deur misdaad in die rustige dorpie deurgeloop.
Corridor Gazette het in Maart 2019 berig dat Theuns ‘n groep kabeldiewe op heterdaad betrap het in sy erf. ‘n Groep mans het hom met klippe gegooi en ook die huis en sy bakkie se vensters stukkend gegooi. ‘n Verdagte is gearresteer en het na sy hofverskyning verdwyn. Hy is steeds op soek.

LEES OOK: onderberg-se-geliefde-koeksistertannie-bak-al-40-jaar

In Junie is Theuns se huis se vensters weer eens met klippe gegooi en het ‘n groep mans van die vensters met gereedskap soos hamers stukkend geslaan. Die saak is by die SAPD aangemeld, maar geen arrestasies is gemaak nie.
Twee weke gelede, op Sondag om en by 06:00, het Theuns sy woning verlaat om sy koffie kans te gee om af te koel. Franci het op daardie stadium voor die televisie in die sitkamer gesit.


Volgens hom was alles rustig op die erf. Hy het omgedraai om weer in te gaan en het ‘n lawaai gehoor. Met die omkykslag het ‘n onbekende man hom met ‘n tuinvurk begin slaan. In die proses het ‘n tweede man hom met ‘n ysterstaaf bygekom. Theuns het die man met die tuinvurk gekonfronteer. In die gestoeiery wat gevolg het, het die man met die ysterstaaf hom orals oor sy lyf begin slaan. Theuns het verbete aan die tuinvurk vasgehou want “ek het geweet as ek dit los, gaan hulle my dood steek”.
Die tweede man het hom met die ysterstaaf oor die kop geslaan, waarna hy sy bewussyn verloor het. Hulle het sy hande met doringdraad vasgemaak. Die twee mans is in die huis in, waar hulle vir Franci in die sitkamer genader het en gevra het vir geld. Sy het gesê dat daar geen geld in die huis was nie. Hulle het haar aan haar arm gegryp en begin sleep.


Theuns het intussen bygekom en homself losgekry, en is in die huis in. In die kombuis het hy vir Franci geskree om die noodknoppie te druk. Die aanvallers het hom gehoor en op die vlug geslaan. Volgens die Bothas is hul weg met ‘n baie ou selfoon.
Securicon, ‘n buurman, Martin van Staden, en twee lede van Komatipoort SAPD was binne minute op die toneel.
Botha se dogter, wat in Malalane woon, het deurgejaag en hulle het hom na Mediclinic Nelspruit gehaas. Beide sy hande, linkerarm en regtervoet is gebreek. Sy linkervoet is ook raakgeslaan en beseer. Sy regterhand is tussen die pinkie en ringvinger oopgekap. Hy het verskeie steke in sy hand en kop gekry. Volgens sy dogter is sy regterblad, heup en dyspier tot by die been nog gevoelloos. X-strale van sy hele lyf is geneem, asook skanderings.
In die afgelope twee weke na die aanval, is hy verskeie kere terug hospitaal toe, omrede een nier ingegee het. Hy dra tans ‘n kateter. Sy bloeddruk bly ook hoog.
‘n Kaptein van Komatipoort SAPD het in die week Theuns gaan besoek by sy huis en ‘n saak is geopen. Tot op datum is daar nog niemand gearresteer nie, maar die SAPD het bevestig dat alle leidrade opgevolg word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button