Local newsNews

Kleuter opgeneem in ‘onhigiëniese hospitaalkamer’

'n Twintigmaande oue kind is die afgelope naweek by die Waterval Boven Hospitaal opgeneem waar sy in 'n kamer, waarin daar nog gebruikte spuitnaalde en 'n bloedsak was, moes bly.

“Dit is ‘n skande en onaanvaarbaar vir personeel om nie die nodige protokol wat verband hou met die hantering van menslike weefsel, toe te pas nie,” sê Andries Pretorius van Lydenburg.

Hy, sy vrou Monique en die egpaar se dogtertjie, Liané het die naweek in Waterval Boven by familie gekuier toe die kleuter siek word. “Sy het Saterdagnag ‘n baie hoë koors ontwikkel en is daar besluit om haar hospitaal toe te vat,” vertel Andries.

Met hulle aankoms het die hekwag geweier dat hulle die perseel mag binnery. Hulle moes glo buite in die donker in die straat, waar daar geen straatligte is nie, stilhou. Die wag het gesê dat hulle die kind na die hospitaal toe moes dra.

Die onopgeruimde hospitaalkamer.

Na ‘n argument het die sekuriteit wel die hek oopgemaak, maar gesê Andries mag net die kind aflaai en moet dan weer buite parkeer.

LEES OOK: Motorongeluk ontneem jong man van tweede kans

Die dokters het besluit om Liané vir waarneming op te neem. “Ons was geskok toe ons in die kamer kom en sien daar is nie net ‘n houer met gebruikte spuitnaalde wat daar staan nie, maar ook ‘n gebruikte eenheid bloed wat skynbaar aan ‘n vorige pasiënt toegedien is, op die bedkassie.

“Die vloer was vuil en daar het ook leë koeldrankbottels op die vloer gelê.”

Monique het besluit om eerder saam met haar dogter in die hospitaal te oornag.

Ten spyte daarvan dat hulle die toestand van die kamer asook die gebruikte bloedsak by die saalpersoneel aangemeld het, is dit glo nie verwyder nie.

Gebruikte spuitnaalde.

“Toe ek die Sondag 10:30 hospitaal toe is, en waar ek wéér aangesê is om buite te stop, was ek geskok om te sien die kamer is steeds vuil en die bloedsak lê nog net so op die badkassie.”

LEES OOK: Dié eeue-oue verhaal word met flair op die planke gebring

Dumisani Malamule, woordvoerder van die Department van Gesondheid, het gesê mediese protokol bepaal dat alle kamers, nadat ‘n pasiënt ontslaan is, skoongemaak moet word. Volgens hom word alle menslike weefsel en afval in spesiale houers geplaas en dan na ‘n plek van veiligheid geneem.

“Dit mag egter gebeur dat ‘n pasiënt dringend opgeneem moet word en dan word die kamer direk na opname skoongemaak. Dit is wat in dié geval gebeur het.”

Malamule sê daar is egter ook opdrag gegee dat die voorval oor die vuil kamer en die menslike weefsel deur lede van die hoofkantoor ondersoek moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button