Hospitale se parkeerreëlings ontstel Laevelders
Mense wat die hospitale sedertdien besoek, is deur die hekwagte weggewys en opdrag gegee om buite te parkeer.

Gemoedere loop sedert Desember hoog by Mpumalanga se provinsiale hospitale nadat alle besoekers en pasiënte verbied is om hulle voertuie binne die persele te parkeer.
Die enigste voertuie wat wel toegelaat word, is noodvoertuie en dié wat aan die personeel behoort.
Die skokbesluit is reeds op 21 November deur die Nasionale Department van Gesondheid geneem en moes onmiddellik by alle provinsiale hospitale landswyd geïplimenteer word. Dit is glo gedoen ter wille van veiligheid by hospitale.
LEES OOK: Hoërskool slaag meeste kandidate met universiteitsvrystelling
In die Laeveld is daar bittere ongelukkigheid oor die besluit, nie net oor die ongemak wat dit veroorsaak nie, maar ook omdat daar nie sekuriteit vir voertuie beskikbaar is nie.
Esther Visagie is kort na Kersdag by Rob Ferreira die hek gewys toe sy vir haar man, John, kos en klere wou aflaai. Sy moes haar pakkies van die hoofhek tot by die saal dra.
Waterval Boveniete het ook erg gal gebraak toe hulle daar weggewys is. Dina Steyn moes met haar seuntjie, Duwan (3) hospitaal toe jaag nadat hy ‘n munstuk ingesluk het.
“By die hospitaal het die hekwag gesê ek moet in die straat stilhou en my seun indra. Daar is geen veiligheid daar buite nie,” vertel sy.
“Gelukkig het hy niks oorgekom nie. Maar wat as daar ‘n ernstige voorval plaasvind en daar moet eers ‘n ‘procedure’ gevolg word?”
Nog ‘n inwoner, wat anoniem wil bly, is ook by die hek voorgekeer met ‘n siek kind.
Sy het dit aanvanklik oorweeg om maar buite te stop, maar toe die sekuriteitswagte vir haar sê hulle hou van haar Volkswagen Golf en sou dit graag wil koop, het sy ongemaklik gevoel en huis toe gegaan. Ria Stemmet moes haar kleinkind, Melanie Schwartz, laatmiddag hospitaal toe vat. Sy moes ook buite parkeer.
LEES OOK: Klant by winkelsentrum kry haar handsak terug
“Teen die tyd dat hulle haar klaar behandel het, was dit reeds 21:00. Ek moes met die kind in die donker na my kar toe hol. Ek was vrek bang.”
In Sabie is besoekers egter baie gelukkiger. Hier word voertuie steeds op die perseel toegelaat.
“Ek vermoed ons moes dalk spesiale toestemming kry, omdat die straat baie smal is en daar is baie hoë randstene.
“Daar is nie stilhouplek buite nie,” het ‘n personeellid, wat nie geïdentifiseer wou word nie, gesê.
Dumisane Malamule, woordvoerder van die Department vir Gesondheid in Mpumalanga, sê die besluit is reeds op 21 November deur die Nasionale Department van Gesondheid geneem.
“Dit is gedoen ter wille van veiligheid en sekuriteit van personeel. Sasekani Manzini, LUR van gesondheid, het reeds op verskeie sosiale media platforms en SABC Nuus die besluit aangekondig.”
Hy kon nie bevestig of die department bykomende sekuriteit verskaf om voertuie op te pas nie.
