Local newsNews

Wit olifantkalfie kry tweede kans op lewe

Die draad van die strik was om Sunshine se kop vasgevang en het baie diep in die hoeke van haar mond en wange ingesny. Haar trop was nêrens te sien nie. 

‘n Mens kan maklik verdrink in die diep blou poele van Sunshine se sagte ogies.

Dié vier maand oue albino-olifantkalfie het reeds baie trauma in haar kort lewe ervaar, en klaar bewys dat sy ‘n vegtertjie is. Ten spyte daarvan dat dit ongewoon is vir ‘n wit olifant om in die wild aan die lewe te bly, het sy onlangs ‘n paar dae vasgevang in ‘n strik oorleef.

Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad- (MTPA) lede, Ertjies Rohm, Chris Hobkirk en Gait Jan Sterk, het die jong olifant verlede Maandag in een van die raad se reservate ontdek en uit die strik gered.
Hulle het dr. Albertus Coetzee van West Acres Dierehospitaal gekontak.

LEES OOK: Most fuels to go up after oil surge and rand weakness

“Ons het haar gaan stabiliseer en na assessering besef sy het dringende hulp nodig,” het Coetzee aan Laevelder gesê.

“Benewens die gapende wond aan haar mond en nek, was die kalfie ook verskriklik ontwater. Dit blyk of sy so drie of vier dae in die strik vasgevang was en was baie swak.”

Coetzee het verduidelik dat die groot uitdaging was om haar aanvanklik te skuif, aangesien sy swak was. Daar is besluit om haar tydelik na Care for Wild Rhino Sanctuary te stuur totdat sy sterk genoeg was om na haar nuwe tuiste, Hoedspruit Elephant Rehabilitation and Development (HERD) in Hoedspruit, vervoer te word.

LEES OOK: Another blow for rhino anti-poaching

Care for Wild se Petronel Nieuwoudt het gesê dat, soos met die versorging van weesrenosters, versorging en voeding by pasgebore olifante ‘n gespesialiseerde veld is, en sodra hulle stabiel is, moet hulle by ander olifante wees.

Adine Roode, uitvoerende direkteur van HERD, het voorsiening vir die nodige permitte gemaak sodat die getraumatiseerde kalfie na hulle verskuif kon word.

Wildsveearts Ben Miller van Provet Wildlife Services het gehelp met die skuif na die HERD-weeshuis. “Die kleintjie het in goeie gees gelyk en sterk geveg! Ons het gevoel dat sy die reis veilig kon onderneem,” luidens ‘n verklaring op hul webtuiste.

Die span het verlede Woensdag kort voor 19:00 by die rehabilitasiesentrum aangekom en Sunshine het maklik gevestig geraak. Lammie die skaap was daar om haar welkom te heet en te verseker dat sy nie eensaam voel nie.

Na haar eerste nag was Sunshine nuuskierig oor haar omgewing en het sterk en kalm voorgekom. Volgens HERD is die realiteit dat haar reis egter nou eers begin.

“Die uitdagings begin nou eers; emosionele trauma en hoe dit haar liggaam gaan beïnvloed, die ernstige wonde – enigiets kan enige oomblik verander.”

Roode het geskryf dat Sunshine ongelooflik dapper is, en dat haar naam gekies is nadat hulle haar unieke skoonheid in die oggendlig gesien het.

Foto’s: MTPA en HERD

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Lande Willemse

Landé Willemse is a multiple-award-winning journalist and editor with more than two decades of experience across print, digital, and broadcast media. Her work, which includes photography, spans investigative reporting, sport, agriculture, tourism, political and community news, with bylines across several respected South African publications.
Back to top button