Sweepmaker se hande staan vir niks verkeerd nie
Cöhrs se belangstelling in hierdie stokperdjie het in 2013 begin. Hy onthou hoe hy as kind van die kraakgeluide gehou wat sy pa se sweep gemaak het.

MBOMBELA – Wessel Cöhrs kan as’t ware as ‘n hedendaagse Renaissance-mens beskou word. Bedags is hy ‘n uitlegkunstenaar by Laeveld Media, maar saans werskaf hy by die huis op sy werksbank om hoë kwaliteit swepe te vleg.
Op die oog af lyk die hoop velle in sy werkswinkel nie na veel nie, maar sodra hy die leer strek en behandel, is dit asof dit voor jou oë lewendig word.
“Ek hou van leer omdat dit lewendig is,” sê hy. “Dit beweeg en strek en kan tot die gewenste vorm gemaak word.”
Sy entoesiasme word meer duidelik namate hy al meer opgewek praat oor die proses wat hy volg om die hoë gehalte swepe te maak. Cöhrs se belangstelling in hierdie stokperdjie het in 2013 begin.
Hy onthou hoe hy as kind van die kraakgeluide gehou wat sy pa se sweep gemaak het.
LEES OOK: Wit olifantkalfie kry tweede kans op lewe
Sy pa het self dié sweep gemaak waarmee Cöhrs as jong lat gespeel het. Na sy dood het dit verlore gegaan, en hy het besluit om sy eie hand aan sweepmaak te waag.

Aanvanklik het hy parakoord gebruik, maar hy het later na leer oorgeslaan toe hy die groot aanvraag na laasgenoemde besef het. Sy nuuskierige geaardheid het oorgeneem.
“Ek het begin leesstof oor die onderwerp koop om meer kennis oor die kuns op te doen.”
LEES OOK: KYK: Grace eet haar appels en patats
Sweepmaak is nie kinderspeletjies nie en dit het baie ure van oefen, foute maak en regmaak, en kersopsteek by prominente sweepmakers geverf om sy tegniek te verfyn.

LEES OOK: GALLERY: Laerskool Laeveld se onnies leer mekaar ken
Die perfeksionistiese Cöhrs glo nie in kortpaaie nie en sy swepe is besig is vir hom ‘n gerespekteerde naam in die bedryf uit te kerf.
Vir die leek blyk die sweepmaakproses ingewikkeld, maar vir hom het dit die deur na ‘n ander wêreld oopgemaak. Hy streef na volmaaktheid en is gedurig besig om met beter ontwerpe vorendag te kom.
“Ek probeer altyd om dinge anders te doen, om meer moeite te doen en goed ontwerpte, sterker gehalte swepe aan my klante te bied.”

LEES OOK: Laerskool Laeveld se haasbekkies gaan “grootskool” toe
Cöhrs se kunssinnige aard strek nie net tot sweepmakery nie. Hy is ook ‘n bekwame kunstenaar wat teken en skilder. Cöhrs het verduidelik dat hy vas daarin glo dat die lewe ten volle geleef moet word. Om hierdie rede gee hy eenhonderd persent in elke nuwe uitdaging wat hy aanpak. Hy beplan om volgende jaar sy handewerk by die LA Whip Convention in te skryf.
Vir nou lê daar baie ure van sweepmaak en -ontwerp voor vir dié veelsydige kunstenaar.
Navrae: Cöhrs by 074-801-4477.
