Inwoners is ongelukkig oor rioolstrorting
Inwoners van Witrivier moet saam met die reuk van riool leef tot die regte masjinerie die probleem kan oplos.

Die Mbombela Plaaslike Owerheid wag vir spesiale masjinerie om die rioolprobleem in Tambotiestraat, Witrivier op te los.
Volgens inwoners het riool op 11 Januarie uit die luikgat in die straat begin loop. Dit is op 14 Januarie by die munisipaliteit aangemeld.
“Dit stink die heel dag,” sê ‘n inwoner, Hannelie Taylor.
Die munisipaliteit het vier keer uitgegaan om die probleem op te probeer los. Hulle het eers stawe deurgestuur en gevind dat daar wortels is wat die blokkasie veroorsaak.
LEES OOK: Hi-Tech sekuriteitswag verskyn in hoof oor beweerde aanranding
Na nog klagtes het hulle met ‘n straalspuitmasjien die blokkasie met lug probeer oopblaas, maar dit het nie gewerk nie.
Rowan Torr, die DA-raadslid in Witrivier, sê dat hulle nie die probleem plaaslik kan regmaak nie, maar dit moet uitkontrakteer en ‘n spesiale masjien vanuit Johannesburg laat kom.
“Die dorp se infrastruktuur is te oud en ons ontvang ses tot agt klagtes oor rioollekke per dag,” sê hy.

Die raad is besig om ‘n program op te stel waarvolgens hulle die ou infrastruktuur sal herevalueer en herstel.
“Die water- en sanitasie-afdeling het ‘n spesiale begroting wat gebruik kan word vir noodgevalle soos dié, want ons kan dit nie net so los nie,” het Torr afgesluit.
LEES OOK: Rugby-grootkop ontken skuld na seksuele oortreding
