Kim se dood nou saak van strafbare manslag
'n Saak van strafbare manslag word nou ondersoek na die dood van Kim Kerswill, die jong student wat in Desember in 'n gru-ongeluk in die stad betrokke was.

Kim, die dogter van die voormalige eienaar van Hi-Tech Security, Johnny Kerswill, was op 16 Desember ‘n passasier in ‘n voertuig wat deur ‘n kennis bestuur is.
Hulle was op pad terug van ‘n partytjie toe die bestuurder, wie se naam bekend is aan Laevelder, na bewering teen ‘n hoë spoed in ‘n vragmotor vasgery het. Dit is volgens ooggetuies wat kort voor middernag ook op die toneel was.
Die ongeluk het by die Crossing-verkeerslig op die R40 plaasgevind. Johnny het bevestig dat sy dogter vasgepen in die wrak was en met die Jaws of Life uitgesny moes word.
LEES OOK: Huldeblyk aan Kim Kerswill
Kim is in ‘n kritieke toestand na Mediclinic Nelspruit gehaas, maar is kort daarna na Millpark in Johannesburg oorgeplaas nadat geen plaaslike neurochirurg glo betyds gekontak kon word nie.
Haar beserings het ernstige hoofbeserings, bloeding op die brein, ‘n geskeurde kakebeen, beseerde ribbes en ‘n gebreekte arm ingesluit. Sy is kort na die ongeluk oorlede.
LEES OOK: Kim Kerswill kritiek na gru-ongeluk
Kapt. Zandile Gqawa het bevestig dat die polisie oorspronklik ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek het, maar dat die klag nou strafbare manslag is. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, aangesien ons nog besig is met die ondersoek.”
