Motorfietsrit bring Afrika bymekaar
Die organiseerder van die Laeveld-been, TJ Maré, het verduidelik dat dit 'n onbytrit is wat regoor Afrika op die laaste Sondag in Januarie plaasvind.

Die jaarlikse Riding in Unity-motorfietsrit het Sondag vir die vyfde keer plaasgevind.

“Dit gebeur reg oor die vasteland, van Lesotho tot Mosambiek, en dit is eintlik maar net ‘n geleentheid om verskeie motorfietsryers saam te kry om sommer net lekker te ry.”
Ongeveer 50 motorfietsryers het Sondagoggend vroeg vanaf Halls buite die stad weggespring, en weer in Belfast gestop waar nog ‘n paar aangesluit het.
LEES OOK: Saai sê hul sê op VK-trofeejagverbod
Teen die tyd wat almal by die Alzu Petroport-vulstasie tussen Belfast en Middelburg aangekom het, was die groep van Mpumalanga ongeveer 200 motorfietse sterk.

“Dit was ongelooflik,” het Maré gesê. “Daar was ook sowat 350 mense wat almal daar was om saam na die boodskap die luister.”
‘n Oomblik van stilte is gehou vir die vriende wat verloor is en daarna is veiligheidspunte bespreek.

“Ons het gesels oor die regte klere, en dat motorfietsryers moet oplet na blinde draaie en blinde hoogtes, en natuurlik is die spoedgrens weer aangespreek, want dit is mos maar iets wat ons almal so effe wil ignoreer,” het Maré gesê.

Maar eindelik was dit net ‘n lekker kuier-oggend vir die groep, en nadat daar ontbyt genuttig is, en opvangstories uitgeruil is, het almal weer stuk-stuk hul pad huis toe gevind.

