Groener weivelde vir voormalige FLASH bevelvoerder in Mogadisjoe
Bekker is ’n gesoute Laevelder en het verder vertel dat sy almal vreeslik baie mis.
MBOMBELA – Kapt. Ronel Bekker het afskeid geneem van die Laeveld en die SAPD nadat sy ‘n pos by die Verenigde
Nasies (VN) aanvaar het.
Die voormalige bevelvoerder by die eenheid vir vuurwapens, alkohol en tweedehandse goedere (FLASH) in Mbombela is aangestel as senior projekbestuurder in Mogadisjoe, Somalië.
Haar bedanking uit die Nelspruit SAPD se diens is ’n bittersoet einde aan ‘n loopbaan waarin sy vir sowat elf jaar as kaptein gedien het.
Volgens Bekker is haar besluit om die nuwe uitdaging aan te pak genoodsaak deur ’n gebrek aan bevorderingsgeleenthede by die SAPD.

LEES OOK: Maak reg vir Maroela Makiti
“’n Mens moet iewers in jou lewe stop, diep asem haal en jou toekomsmoontlikhede evalueer. Dit was ‘n baie moeilike
besluit, maar ek het besef dat ek geen toekomsmoontlikhede in die SAPD het nie,” sê sy.
Die polisieveteraan was altesame 27 jaar in diens by SAPD en sê dat sy as dogtertjie drome gekoester het om eendag
die blou uniform te dra en sodoende haar gemeenskap te kan help.
“Ek het steeds daardie selfde passie, maar dit is my nou ontneem. Die nuwe VN-aanstelling bied egter weer nuwe
geleenthede om op ’n heel ander manier mense wat regtig hulp nodig het, te help.
Ongelukkig is dit nie ons eie land se mense nie.”

LEES OOK: Kindermoordenaar se paroolaansoek word goedgekeur
Bekker het verder vertel dat die besluit om uit die SAPD te bedank haar slapelose nagte veroorsaak het.
“Ek het lank gedink en baie trane gestort, want op die einde van die dag moes ek my beroep waaroor ek my hele lewe so passievol was, opgee.
“Die lekkerte van die uitdaging is dat jy suiwer op jou vaardigheid, kennis en bevoegdheid gemeet word.”
Sy is ook sedert 2010 betrokke by swem in Mpumalanga en ’n bekende gesig by swemgalas, waar sy hard agter die skerms gewerk het om transformasie in die sport te realiseer.

LEES OOK: Per ongeluk is strafbare manslag
Die nuwe pos wat sy by die VN beklee verskil in baie opsigte nie veel van haar ervarings as polisievrou nie, maar sy het
bygevoeg dat die werksomgewing baie verskil.
“Dit was ’n skielike en ’n groot aanpassing van die werksomgewing waaraan ek in die SAPD moes gewoond raak oor tyd, waar bevoegdheid en daaglikse dienslewering binne jou aangestelde pos bloot net nie meer ’n prioriteit was nie.
“Hoewel ek nog net ’n week in my nuwe pos is, was die ondersteuning en motivering deur almal binne die organisasie waarmee ek te doen het, bloot ongelooflik. Na 27 jaar se diens in die SAPD, is hierdie nuwe werksomgewing amper ’n skok.”
Bekker is ’n gesoute Laevelder en het verder vertel dat sy almal vreeslik baie mis.
“Dit was die grootste hartseer, maar jy besef dit eers as jy weg is. Jy laat almal en alles wat jy so lief het agter net om ‘n kans te kry om ‘n beter toekoms vir jouself en jou familie te skep.”

LEES OOK: Laerskool Bergland spog met nuwe onderwysers
Sy reis binne die volgende ses weke terug en het bygevoeg dat haar hart steeds hier lê.
“Ek kan juis nie wag om so gou moontlik weer al my geliefdes en vriende te sien nie. Hierdie is ‘n geweldige opoffering vir my en almal na aan my, maar iets waaroor ek geen ander keuse gehad het nie.”
