Plasse riool ontstig inwoners
Anneli Davids van Jansonstraat, mor oor die stroom rou riool wat nou al weke lank deur haar erf vloei.
MACHADODORP -Plek-plek vorm die riool onuithoubare gemors en groot poele op haar buurerf.
“Dit is ‘n disgusting gemors en die reuk is ondraaglik. Die grond is nou al só deurweek met vog, die riool wil nie eens meer wegsyfer nie,” vertel sy.
Davids se erf is reg langs die dorp se rioolverwerkingsaanlegpompe geleë aan die onderpunt van die straat.
‘n Tweeslaapkamerhouthuis wat ook op haar erf geleë is, kan nie gebruik word nie, omdat die stelte waarop die huis gebou is, in ‘n dam riool staan.
LEES OOK: Inwoners is ongelukkig oor rioolstrorting
“Ek en my kinders woon in ‘n woonstel op dieselfde erf. Ek kan my kinders nie eens buite laat speel nie, omdat ek nie weet watter peste of siektes hulle kan opdoen nie.”
Haar perde word ook op die erf aangehou en moes noodgedwonge afgekamp word, omdat die diere nie in die stinkende “vleiland” kan wei nie.
“Omdat my erf die laaste een in die straat is, is dit dus ook een van die laagstes in die dorp. As die pompe nie werk nie, soos die afgelope drie maande die geval is, borrel die riool by mangate op my erf uit. Almal se riool beland in my erf!
“Bo-en-behalwe die gesondheidsgevaar en ongerief wat dit vir ons as inwoners veroorsaak, stroom die rou riool ook in die Leeuspruit in,” sê Davids.
Die spruit vloei enkele honderd meter van Jansonstraat af verby. Die spruit vloei naby die dorp in die Elandsrivier in. Die rivier is ‘n belangrike sytak van die Krokodilrivier.
Die Elands River Lodge, wat skyns oorkant Davids ook in Jansonstraat geleë is, loop ook gereeld onder rioolverspoelings deur, sê sy. Die gastehuis kon nie bereik word vir kommentaar nie, omdat hul telefone glo buite werking is.
LEES OOK: Riool in die strate van Waterval Boven
Amanda Botha, ‘n DA-raadslid van die eMakhazeni Plaaslike Owerheid, sê die rioolkrisis is al verskeie kere aan die raad gerapporteer.
eMakhazeni is oorhoofs in beheer van Belfast, Machadodorp, Dullstroom en Waterval-Onder.
“Ten spyte van ‘n ondersoek in Desember 2019 wat deur burgemeester, rdl. Thomas Ngwenya, en die waarnemende munisipale bestuurder, Msi Malaleka, gedoen is, het niks gebeur nie,” sê Botha.
“Ngwenya het van die perseel af amptenare geskakel om onmiddellik aandag aan die krisis te gee, maar nie eens dit het gehelp nie.”
Malaleka het ten spyte van ‘n telefoniese onderneming, nie op Laevelder se pogings vir kommentaar gereageer nie.

