Onverwagse besoeker veroorsaak groot paniek
Dat slange in vreemde plekke opgespoor word, is gewis, maar een van dié reptiele het onlangs selfs 'n slangkenner van die dorp laat kopkrap.
Neels Bothma, plaaslike herpatoloog, vertel dat hy verlede Donderdag ‘n oproep ontvang het van ‘n vrou wat ‘n slang uit haar huis wou laat verwyder.
“Ek was ongelukkig besig en het my student, Melany Jordaan, wat ek oplei in slanghantering, uitgestuur. Sy het my kort daarna geskakel en vir my verduidelik dat sy die slang na my toe gaan bring. In die houer wat sy saamgebring het, was ‘n swartmamba. Hy was egter nog ‘n baba van net 650 mm. Die slang, ongelukkig reeds dood, was ‘n mannetjie.”
Wat Bothma egter gepla het, is die plek waar die reptiel aangetref is: in die vrou se tuimeldroër. “Die vraag is natuurlik hoe hy daar opgeëindig het? Sy het aan my verduidelik dat hulle onlangs in Ohrigstad was. Swartmambas kom daar voor. Dis natuurlik bekend en algemeen dat slange saamrygeleenthede kry met onbewuste motoriste en so na vreemde omgewings verskuif word.
Meer oor slange: Snake handler was strangled to death by his pet python coroner finds
Dit is moontlik dat hy wel van Ohrigstad af gekom het, maar hoe die reptiel in die droër beland het, dat niemand hom opgemerk het nie en dat niemand gebyt is nie – dit bly egter ‘n raaisel,” verduidelik Bothma.
Volgens hom is dit net weer ‘n bewys van dodelike slange se onbewuste teenwoordigheid, sonder skade aan mense of diere, in die mees vreemde plekke.
Lees meer: Brazil milks deadly snakes for their life-saving venom
Die publiek word egter weer eens versoek om dadelik die hanteerders in Lydenburg te kontak indien reptiele of selfs ander wilde diere verwyder moet word. Inwoners word gemaan om nie self te poog om hulle te verwyder nie. Skakel Bothma by 082-730-3047 of Jordaan by 084-784-6961.

