Local newsNews

Toekoms steeds duister oor 20 jaar oue leë huis

Die halfgeboude huis staan al jare leeg. Die enigste teken van lewe is 'n sekuriteitswag.

MBOMBELA – Wie, wat, waar, wanneer, hoekom? Dit is vrae wat gereeld by inwoners van Cussonsstraat opduik wanneer hulle by die kapoenkleurige huis verbyry.

Laevelder het in die laat 1990’s die laaste keer oor die huis, sy eienaar en wat daar aan die kook was, berig.

Die huis behoort aan Rina Charles, skoonsuster van Mavis Charles, destyds ANC-raadslid van die Mbombela Plaaslike Owerheid.

Charles was in die laat 90’s en vroeë 2000’s die hoof van Mpumalanga se Departement van Gesondheid.

Charles, na wie soms in amptelike dokumente van die provinsiale regering as “advokaat” en “doktor” verwys is, is in omstredenheid gedompel toe staatsprokureurs haar van bedrog verdink het.

Die halfgeboude huis staan al jare leeg.

Sy is later afgedank. In 2008 het sy op 18 aanklagte van bedrog en korrupsie in die hof verskyn. Laevelder kon nie teen druktyd vasstel wat die uiteinde van die hofsaak was nie.

Die huis is by Cussonsstraat 6, West Acres X20. Dit is ‘n halfgeboude, luukse dubbelverdiepinghuis. Die erf is op die oewer van die Gladdespruit. Daar is drie slaapkamers, ‘n dubbel-motorhuis, oopplankombuis/eetkamer/leefarea, ‘n sitkamer en ‘n stoep wat oor die spruit en bosveld uitkyk.

LEES OOK: Mataffin-inwoners betoog oor krag

Dit is in die jare 1998 tot 2002 begin bou. Toe die gevreesde Y2K-virus hoogty gevier het, is die bouwerk gestaak.

Die huis is nooit voltooi nie weens persoonlike en finansiële krisisse wat Rina Charles destyds geteister het. Die bouers het uit protes oor betaling, sement in verskeie van die pype gegooi. Die plek is oorgroei en boskruipers het dit as slaapplek begin gebruik.

Na klagtes het die munisipaliteit die perseel skoongemaak en ‘n heining opgerig. Die raad het destyds suksesvol aansoek gedoen om ‘n hofbevel om die gebou te sloop.

Joseph Ngala, woordvoerder van Mbombela Plaaslike Owerheid, sê die slopingsbevel is tans, 20 jaar later, steeds van krag.

“Ons kon egter nie met die sloping voortgaan nie, omdat die eienaar ‘n regsdispuut teen die raad begin het.”

Dié dispuut is steeds nie opgeklaar nie, maar Ngala kon nie sê wat die rede vir die jare lange gesloer is nie.

Verskeie pogings om Rina Charles vir kommentaar op te spoor was onsuksesvol. Verskeie boodskappe en ‘n volledige lys vrae vir kommetaar is na Mavis Charles gestuur. Sy het dit gelees, maar nie gereageer nie. Sy het slegs gesê dat sy haar skoonsuster laas in 2017 by ‘n begrafnis gesien het.

LEES OOK: Plasse riool ontstig inwoners

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button