Local newsNews

Skukuza-hof se toekoms in ‘n volle bank regters se hande

'n Advokaat wat Maandag namens renosterstropers in die hooggeregshof van Mpumalanga verskyn het, het wenkbroue laat lig nadat hy die voorsittende regters ingelig het dat hy ook 'n senior streekshoflanddros van die stad verteenwoordig.

Die hofsaak spruit uit onlangse konflik wat tussen regter Francis Legodi, regterpresident van Mpumalanga, en Naomi Engelbrecht, streekshofpresident in die provinsie, ontstaan het oor die status van die streekshof in Skukuza.

Agtergrond

Alles het in 2017 begin toe Engelbrecht glo eensydig besluit het om die streekshof in Skukuza te sluit en alle sake van die hof, insluitende ‘n groot aantal renosterstropers-verwante sake, na die hof in Mhala geskuif het.

Daar het destyds ‘n dispuut oor die besluit ontstaan nadat verskeie regsgeleerdes, insluitende landdroste, en rolspelers in die bekamping van renosterstropery asook SANParke beswaar gemaak het oor die stap.

Niks het sedertdien gebeur nie.

Die besluit het egter in Augustus weer na vore gekom toe Engelbrecht finaal aangekondig het die hof op Skukuza sal wel sluit, en dat alle streekshofsake voortaan by Mhala aangehoor sal word.

In daardie stadium het Legodi persoonlik by die dispuut betrokke geraak.

LEES OOK: Local is lekker met Innibos op skrikkeldag

Hy het Engelbrecht ingelig dat haar besluit onwettig is en opdrag gegee dat alle sake wat na Mhala uitgestel is, na Skukuza terugverwys moes word. Sy het egter botweg geweier.

In Desember het die nasionale vervolgingsgesag by monde van adv. Ansie Venter, ‘n senior streekshofaanklaer, ‘n amptelike aansoek in Mhala ingedien om Engelbrecht se besluit ongeldig te verklaar en alle sake na Skukuza terug te verwys.

Twee streekshof-landdroste het egter geweier om die saak aan te hoor en Engelbrecht het self as voorsittende beampte opgetree. Sy het die aansoek van die hand gewys.

Sy het gesê Legodi is nie by magte om in haar jurisdiksie as streekshofpresident in te meng nie.

Die verloop van die saak

Legodi het toe besluit om die hele aangeleentheid na ‘n vol bank regters te verwys om oor die saak te beslis.

Die mosie-aansoek het Maandag in Mbombela in die hooggeregshof voor regters Bernard Ngoepe (afgetrede regterpresident van die Noord-Gauteng Hooggeregshof), regter Cynthia Pretorius (‘n afgetrede regter) en waarnemende regter Moira Mankge, gedien.

Hulle moet oor drie aspekte ‘n bevinding maak:

• Kom die uitspraak wat Engelbrecht in Desember gemaak het toe sy die aansoek teen haar eie bevinding om nie streekshofsake na Skukuza terug te plaas nie, nie op subjektiwiteit en ‘n botsende belang neer nie?

LEES OOK: Eienaar van Coastal Hire oorlede na fratsongeluk tydens 4×4-pretrit

• Is die Skukuza-hof wel ‘n wettige aangewese plek vir sittings van streekshofsake?

• Het Legodi die reg om as hoofregter by ‘n besluit van ‘n streekshof in te meng?

Tydens die aanhoor van argumente, het die regters ‘n gewag daarvan gemaak toe adv. Kgama Shai van die Balie in Mpumalanga, bekendgemaak het dat hy nie net namens renosterstropers optree in die mosie-aansoek nie, maar ook namens Engelbrecht.

Shai was die enigste regsverteenwoordiger wat teen die mosie beswaar gemaak het.

Ander partye wat opgetree het ter ondersteuning van die aansoek is:

• Nasionale Vervolgingsgesag – adv. Erik van der Merwe
• Die minister van justisie – adv. Tsietsi Ramatsekisa
• Die Departement van Omgewingsake en Visserye – adv. Jolandie Ras
• SANParke – adv. Coert Jordaan (as vriend van die hof).

Uitspraak in die saak is voorbehou. Die regters het opdrag gegee dat alle staatskoerante wat betrekking het op die status van Skukuza as streekshof, teen  28 Februarie aan alle partye beskikbaar gestel moet word.

LEES OOK: Bekende koskenners beoordeel bobaasbaksters

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button