Generaal Renoster voer oorlog teen renosterstropery in Krugerwildtuin
Van dag een af het Jooste se kundigheid as 'n goed opgeleide weermaggeneraal, wat gespesialiseerde kennis in militêre inligtinginsameling asook uitgebreide ondervinding in grens- en areabeskerming het, handig te pas gekom om 'n strategie te ontwikkel om renosterstropery hok te slaan.

Genl. Johan Jooste (68), wat onder sy kollegas en vriende beter bekendstaan as “Generaal Renoster”, is ‘n gebore militaris en passievolle natuurliefhebber.
Dit is hoe die Laevelders Jooste leer ken het nadat hy in 2012 as afgetrede generaal-majoor van die SANW deur SANParks aangestel is om te help met die stryd teen renosterstropery, veral in die Krugerwildtuin.
Destyds het David Mabunda, voorsitter van SANParks, ook gesê Jooste se kennis van moderne en gesofistikeerde tegnologie in oorlogvoering kan bydra om die stryd teen stropers te wen.
Sommer gou het sy se nuwe strategie wat in die Krugerwildtuin geïmplementeer is, vrugte afgewerp. Soveel so dat hy gevra is om ‘n breër strategie vir teenstropery landswyd te ontwikkel.
Enkele jare gelede is hy na SANParks se hoofkantoor oorgeplaas waar hy nouer betrokke geraak het by die ontwikkeling van planne vir misdade teen natuurlewe.
ALSO READ: Rustig Ouetehuis inwoner vier 101 jaar
Hier het hy nou in samewerking met die Vryheidsparkstigting gewerk om die stryd teen misdade in die natuurlewe voort te sit.
Jooste is pas deur die stigting gesekondeer om in samewerking met die Departement van Omgewingsake ‘n uitgebreide strategiese program wat gemik is op die wyer bekamping van natuurlewe-misdade en -korrupsie, te vestig.
“Ek is twee jaar gelede deur Edna Molewa, die destydse minister van omgewingsake, gevra om ‘n nuwe strategie te ontwikkel.
“Die program is nou gereed om geïmplementeer te word. Dit is geskoei daarop om beter en meer gekoördineerde samewerking te bewerkstellig tussen alle natuurparke – nasionaal, provinsiaal, munisipaal en in die privaatsektor,” sê Jooste.
Die nuwe strategie, wat steeds ‘n hooffokus op die stryd teen renoster-, en deesdae ook olifantstroping het, sluit egter ook nou ander misdade teen sektore van die natuurlewe in. Hieronder val ook nou perlemoenstropery en die onwettige smokkelary van beskermde spesies.
LEES OOK: Skukuza-hof se toekoms in ‘n volle bank regters se hande
