Verskeie onderwerpe gedek op AgriSA landbou-inligtingsdag
Die belangrikheid van georganiseerde landbou en voedselsekuriteit is tydens die inligtingsdag beklemtoon

Onsekerheid oor eiendomsreg, misdaad, hoë insetkoste, beurtkrag en tekorte aan water vir besproeiing is tydens AgriSA se inligtingsdag hier bespreek.
LEES OOK:jock-van-die-wapad-pronk-langs-n4-danksy-geheime-kunstenaar
Die belangrikheid van georganiseerde landbou en voedselsekuriteit is ook verlede week tydens nog ‘n inligtingsdag by die Buffel Hotel beklemtoon.

Boere van regoor die Onderberg het hierdie dag bygewoon. Robert Davel van Mpumalanga Landbou het almal teenwoordig welkom geheet.

Ds. Natasha Nel van Malalane het met Skriflesing uit Jeremia 31 geopen en het klem gelê op vers 21: “Rig vir jou padwysers op, bring vir jou rigtingborde aan, hou jou oog op die grootpad, op die
pad wat jy moet loop. Kom terug, Israel, kom terug na jou stede toe.” Sy het afgesluit met gebed.

Daarna het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van AgriSA, die hele bestuurspan teenwoordig voorgestel.
Gregory Smith, water- en omgewings-wetenskaplike, het klem gelê op die feit dat water die belangrikste hulpbron in lanbou is, maar laaste in die ry staan. Hy sê ook dat AgriSA ‘n goeie verhouding met die Department van Water en Sanitasie het, en dat hulle die afgelope drie jaar laer prysverhogings beding het. Hy het boere verseker dat hy seker sal maak dat water regverdig versprei word.

Jahni de Villiers, arbeidspesialis en lid van die Wêreldarbeidsorganisasie, het gesels oor minimumloon-verhogings en die wet op basiese diensvoorwaardes.

Annelise Crosby, beleids- en regs-adviseur oor grondsake, het gesels oor grondhervorming. Daar word tans landswyd vergaderings gehou om te bepaal of die Grondwet ten opsigte van grondhervorming verander moet word, en sy het die boere versoek om hierdie vergaderings in hul omgewings by te woon vir ‘n standpunt op grondvlak, en om vir die regering te wys dat hulle sterk oor hierdie saak voel.

Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne, het gesels oor die aansoek om te myn in die Onderberg en die impak wat dit op die omgewing kan hê.

Misdaadstatistieke is voorgelê deur Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid en provinsiale sake. Hy het boere versoek om alle insidente by die SAPD aan te meld ten einde hulle in staat te stel om die korrekte statistieke te kry. Hy het ook klem gelê op die feit dat hulle gereelde sekuriteitsoefeninge moet doen sodat almal weet hoe om ‘n noodsituasie te benader.

Andrea Campher, rampbestuurder, het gesels oor klimaatsverandering en risikobestuur. Sy is nog ‘n nuwe hand by AgriSA en sê ons kan heelwat by ander lande leer oor behoorlike risikobestuur.

Beurtkrag in Suid-Afrika is deur dr. Requier Wait, hoof van die Sentrum vir Uitnemendheid vir Ekonomie en Handel, bespreek, en hy het genoem dat dit belangrik is dat boere self begin krag opwek.

Na die toesprake het boere die geleentheid gekry om vrae te stel. Een van die groot uitdagings wat tans in die Onderberg is, is korporatiewe visums vir nie-bugers wat op plase werk.

Dit is ‘n duur en lang proses. Hierdie aangeleentheid is in diepte bespreek weens die feit dat die regering daarop aandring dat SA-burgers voorkeur geniet. De Villiers hou ‘n vergadering in die komende week met rolspelers in die regering, en sal terugvoer gee.

Na die verrigtinge het Nancy O’Farrell van die Crocodile River Irrigation Board die mense getrakteer op ‘n regte boerebraai by die lapa, en daar is glase geklink op ‘n leersame dag.
