Local newsNews

TVET-kollege se studentebehuising het inwoners van Leadwood-kompleks in Mbombela die josie in

'n Onderonsie wat Sondagaand tussen huisbewoners van die TVET-kollege (die voormalige Nelspruit Tegniese Kollege) en 'n beweerde indringer plaasgevind het, het inwoners van Leadwood-kompleks die josie in.

“Sedert die een woonstelgebou in die kompleks, op die hoek van Koraalboomstraat en die Kaapsehoop-pad, in studentebehuising omskep is, is dit nag hier,” mor ‘n inwoner wat anoniem wou bly.

‘n Ander inwoner vertel dat daar Sondag omstreeks 22:00 ‘n lawaai in Leadwoodstraat, waar die koshuis geleë is, losgebars het.

Dit word gebruik as behuising vir die TVET-kollege wat oorkant die straat is, en daar woon nagenoeg 100 studente in die eenheid.

LEES OOK: NHS Onnie keer terug vir behoorlike afskeid

Die koshuis bestaan uit 36 woonstel-eenhede. Dié is aan privaat persone verhuur, maar hulle is almal verlede jaar in November kennis gegee om die geboue te ontruim.

‘n Plaaslike kontrakteur het die woonstelblok in koshuisverblyf omskep en dit word sedert Januarie as studentebehuising vir die TVET-kollege gebruik.

Nuuskierige inwoners het uit hulle woonstelle gestroom om te kyk waaroor die bohaai gaan. “Daar was ‘n groep van omtrent 80 studente, die oorgrote meerderheid dames, wat in die straat gestaan en gegil en geskree het.

“‘n Man was die teiken van hulle woede. Hulle het hom uit die gebou tot in Leadwoodstraat gesleep en hom daar aangerand. Dit was ‘n onaardse geraas,” vertel die inwoner.

Daar is later vasgestel dat die “slagoffer” van die dames se tirade ‘n nie-student is wat teen die koshuis-reëls by een van die vrouestudente gekuier het. Hoe die man toegang tot die koshuis verkry het, is onduidelik, omdat daar toegangsbeheer by die hoofhek is.

‘n Inwoner van die koshuis, wat ook anoniem wou bly, het aan Laevelder gesê dat die student en haar vriend glo in ‘n stadium in ‘n stryery betrokke geraak het. Hy het haar na bewering aangerand waarna sy om hulp
geroep het.

Die inwoners van die koshuis het op hom toegesak en hom uit die perseel verdryf. Die polisie sê hulle ondersoek nie die voorval nie, aangesien daar nie ‘n klag by hulle aangemeld is nie. Teen druktyd was daar nog geen terugvoer op skriftelike navrae nie, en telefoonoproepe is onbeantwoord.

LEES OOK: Gemeenskap voel slaggatbesaaide paaie neem Mbombela oor

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button