Local newsNews

Onderberg gemeenskap sal saam staan teen Covid-19 koronavirus

Corridor Gazette het onlangs gaan navraag doen in die dorp om te bepaal wat Covid-19 se impak op plaaslike mense het.

Tot op hede is daar slegs een persoon in die Onderberg-area positief getoets vir die Covid-19 koronavirus. Sy is tans onder kwarantyn by haar huis en was gister weer by Rob Ferreira Hospitaal in Mbombela. Haar toestand vergerer nie en daar is gister verdere toetse gedoen.

Corridor het al die kettingwinkels is besoek en die grootste krisis tans is handwas- en ontsmettingsmiddels, toiletpapier, vitamientablette en strope. Die rakke in meeste van die winkels wat besoek is, het min of geen van hierdie produkte tans beskikbaar nie.

Hendrik van Coller van Malelane Apteek het bevestig dat hulle al vir byna twee weke geen maskers en alkohol vir sanitasie van hulle verskaffers af kry nie. Hy sê verder dat meeste pasiënte wat op kroniese medikasie is, hul voorskrifte vir die volgende drie maande moet kom hernu.

Met die koerant se besoek aan wegneemete-ondernemings is daar gemerk dat almal waarskuwingstekens op het,
sowel as handsanitasie- en wasmiddels beskikbaar het.


Sommige restaurante het ook inligting-stukke teen die mure aangebring, sowel as waarskuwings en handwasmiddels by ontvangs, op die tafels en agter die kroegtoonbanke. Die kleedkamers is toegerus met die nodige waarskuwings en middels.

Die plaaslike watergat, Duck ‘n Dive, het ‘n tafel by hul ingang geplaas met handwasmiddels en ‘n yshouer met die woord “Corona” op. Eienaar Joy Jones sê alhoewel almal die erns van hierdie virus besef, is dit nodig dat ons nie ophou leef en ons sin vir humor verloor nie. Sy bevestig egter dat hul onderneming sedert Maandag ten minste met 20 % afgeneem het. Hulle het ook ‘n gastehuis in die dorp en Jones bevestig dat hulle reeds versekeie kansellasies gehad het.

 

Dawn Klip van Jabula Restaurant in Marlothpark het bevetig dat hul onderneming met 50 % sover verminder het, en dat sy tot op hede twee verblyf-kansellasies gehad het.

Sharon McDonald van The Tin Shack in Marlothpark sê dat sy tot op hede ‘n verlies van 15 % in haar restaurant het. Sy bly egter positief en glo dat hoewel oorsese gaste minder is, haar plaaslike klandisie haar steeds sal ondersteun.

Die Stoep in Komatipoort se Sandra Dudley bevestig dat haar restaurant normaal aangaan. Sy het egter ekstra maatreëls in plek. Haar personeel moet elke halfuur hulle hande met handwasmiddels wat vir hierdie doel aangekoop is, was.

Hulle neem ook daagliks die personeel se temperature om te sien of sit normaal is. Die tafels en ander werksoppervlakte word gereeld deur die dag ontsmet. Sy bevestig verder dat hulle ‘n groot aantal kansellasies gehad het by haar gastehuis weens die feit dat daar minder gaste is wat die Nasionale Krugerwildtuin en Mosambiek besoek. Dudley het egter gesê dat hoewel hulle nie die toekoms kan bepaal nie, bly sy kalm en gefokus. Hulle het begin wegneemetes voorberei om klante te akkomodeer.

Wat opvallend tydens die koerant se tog deur die dorp was, is die hoeveelheid motors wat brandstof ingooi.  By die plaaslike Sasol Garage het voertuie die pompe volgestaan.

LEES OOK: Verskeie onderwerpe gedek op AgriSA landbou-inligtingsdag

In gesprek met die verskeie nooddienste in die Onderberg is die volgende kommentaar ontvang. Gerhard Coetzer van Securicon Lowveld sê hulle doen alles in hulle vermoë om hul werkers en kliënte teen die virus te beskerm. Hulle personeel word daagliks gemonitor vir die basiese simtome van die virus.

LowMed EMS se Frits Koekemoer sê tot op hede het die virus nog nie enige impak op hulle nooddienste gehad nie.
Alwin Carstens van MBM sê dat hoewel die verkeer definitief sedert die minister se aankondiging stiller is, het hul ook nog nie die impak van die virus op hul daaglikse dienslewering ondervind nie.

LEES OOK: Jock van die wapad pronk langs N4 danksy geheime kunstenaar

Marc Haarhoff van Hi-Tech Security Onderberg sê dat hulle protokol volg met betrekking tot die veiligheid van die personeel en kliënte, en hoewel die virus die ekonomie op sy knieë kan bring, is dit besigheid soos altyd.

Ds. Thomas Dreyer van die Nederduitsch Hervormde Kerk het bevestig dat hul dienste voortgaan.

Daar is ‘n ringvergadering gehou en besluit dat weens die feit dat daar selde meer as 100 lede op ‘n slag die dienste bywoon, en op aandrang van hul lidmate, gaan hulle normaal voort.

Die Argentum-samekomste vir seniors is tans gestop. Volgens Marie Coetzee is die risiko vir infeksie onder die ouer mense net te hoog.

Malalane en Komatipoort se rugbyklubs het meegedeel dat alle oefensessies en wedstryde tot einde April afgestel is. Mark Brits, bestuurder by Malelane Gholfklub, het bevestig dat hulle ‘n afname in gereelde spelers het, en dat alle groot toernooie vir eers op die ys is. Jaco van Straaten, president van Mpumalanga Rolbalvereniging, het bevestig dat alle toernooie tot einde April afgestel is.

Die meeste werkers is bekommerd dat hulle die virus kan kry deur hul kontak met kliënte of op publieke vervoer, soos busse. Ouers is bekommerd oor hulle kinders, noudat die skole vir solank gesluit is.

Die Onderberg-gemeenskap is dit egter eens dat hulle saam staan en dat hierdie virus homself ook gaan uitwoed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button