Geen rus vir leerders van Laerskool Burgersfort nie
Leerders van hierdie skool ontvang daaglikse lesse en opdragte om by die huis te voltooi

BURGERSFORT – “Hierdie is nie ’n verlengde vakansie nie, leerders en ouers moet verstaan dat dit nou ’n tyd is van skool weg van skool.”
Dit is die wyse woorde van juffrou Esther Pool, die departementshoof van Laerskool Burgersfort se grondslagfase. Steelbugrer/Lydenburg Nuus het by hierdie juffrou uitgevind hoe die verlengde tyd weg van die skool af die onderwysers sowel as leerders gaan beïnvloed.
Lees ook hier meer: Laerskool Burgersfort leerders het hope pret met geesweek
Laerskool Burgersfort se leerders is al van dag een van die inperking af voorberei vir wat van hulle verwag gaan word. Pool het vir haar afdeling gesê dat die leerders moet rus en vakansie hou tot en met 1 April.
Daarna sal daar daaglikse lesse en opdragte aan die ouers gestuur word deur middel van WhatsApp-groepe vir elke graad. Die ouers se samewerking om hierdie “skool by die huis” projek te laat werk, is baie belangrik volgens Pool.
“Ek weet nie of al die ouers wel die kinders help nie, maar ek het aan hulle verduidelik dat hierdie werk nie huiswerk is nie, maar klaswerk wat in die klas gedoen sou word. Dus vertrou ek hulle verstaan die belangrikheid van die hele proses en dat almal wel hulle kinders help,” het Pool aan die koerant gesê.
Sy het van die aand wat die inperking bekend gemaak is reeds begin beplan aan hoe hulle die situasie gaan benader. Alle onderwysers het die bal aan die rol gekry om lesse voor te berei vir hierdie tydperk. Volgens Pool sal daar hersiening gedoen word na die inperking om seker te maak al die kinders is op datum.
Meer nuus oor hierdie skool: Laerskool Burgersfort vang gees op unieke manier vir interlaer
Die leerders van graad vier en op se onderrig verloop min of meer dieselfde maar sommige van hulle ontvang video-lesse ook.
