KYK: Jimmy Stonehouse roer die hartsnare met sy liedjie oor inperking
Phakisa Pumas-afrigter Jimmy Stonehouse wend sy sangtalent aan om Suid-Afrikaners aan te moedig om tuis te bly en op te kyk na Bo wanneer hulle oorweldig voel.
Dis dag 13 van die grendeltydperk. Bo en behalwe die frustrasies en gevoelens van neerslagtigheid wat dit by die meeste van ons wek, is ons onseker.
Gaan dit wel op 16 April tot ‘n einde kom? Sal ons lewens grootliks tot normaal kan terugkeer? Of gaan ons nóg enkele weke of selfs maande in kwarantyn moet deurbring terwyl ons teen hierdie onsigbare vyand veg?
Tog het hierdie staat van inperking sy voordele. Danksy sosiale media handhaaf ons nie regtig ‘n sosiale afstand nie, maar eerder ‘n fisiese een. Dit bring in vele opsigte ons nóg nader aanmekaar as vóór die inperking. Ons het nou die tyd vir daardie WhatsApp video-oproep na ‘n vriend wat 500 km ver is. Ons vind weer tyd vir stokperdjies en verborge talente en gebruik dit om onsself en ander op te beur.
Ons kyk nou op na sporthelde vir inspirasie, vir ‘n boodskap van bemoeding.
FOTO’s: So oefen die Phakisa Pumas tydens inperking
Jimmy Stonehouse, afrigter van die Phakisa Pumas, besef dit terdeë en wend sy sangtalent aan om Suid-Afrikaners aan te moedig om tuis te bly en op te kyk na Bo wanneer hulle oorweldig voel. Hy het Dinsdag ‘n video waarin hy oor sy ervaring sing, op Facebook gedeel.
“Ons het aanvanklik baie grappies hieroor (Covid-19) gemaak en liedjies gesing, maar hoe verder dit gaan, hoe moeiliker raak dit en hoe groter kom die besef watter probleme daar eintlik is. Waaraan kan ons vasklou? Dit is net die Liewe Vader waaraan ons kan vasklou en vra vir hulp. Besighede, groot en klein, gaan gebukkend onder geweldige druk. Vir elkeen wat swaartrek, my hart gaan uit na julle,” het Stonehouse in sy video gesê.
Hier is sy weergawe van “Hardekole”, oorspronklik gesing deur Ricus Nel, Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse:
https://www.facebook.com/jimmy.stonehouse.54/videos/1087578414933052/
