Kwarantyn-gesin uiteindelik weer tuis
'n Ma van Witrivier en haar twee jong kinders kon uiteindelik Maandagaand in hulle eie huis slaap na sowat 10 dae in 'n kwarantynfasiliteit by die Mercure Hotel in Mbombela.

Marlene van der Nest se twee kinders, Genevi (7) en Joshua (11), het op 12 Junie na Suid-Afrika teruggekeer nadat hulle vir 84 dae by hulle ouma en oupa in Mosambiek gestrand was as gevolg van die Covid-19 koronavirus-inperkingsregulasies.
Marlene moes saam met hulle in kwarantyn geplaas word omdat hulle te klein is om alleen te bly. Nadat sy vir byna ‘n week moes baklei vir toestemming om Lancet, ‘n privaat laboratorium, toegelaat te kry om mense in die fasiliteit vir Covid-19 te laat toets, is sowat 60 mense uiteindelik verlede Donderdag getoets. Sy het haar uitslae Maandag ontvang.
“Die hele ervaring was baie moeilik vir ons. Die kinders was lank weg van die huis af. Ek het van my ribbes gebreek kort voordat ek in kwarantyn moes gaan en is vir twee dae lank pynmedikasie en behandeling geweier. Ek het op die ou end maar my eie medikasie bestel en laat aflewer,” sê sy.
Sy sê die personeel op die perseel was ook oor die algemeen baie onvriendelik en glad nie hulpvaardig nie.

Toe Marlene en haar kinders uiteindelik toegelaat is om huis toe te gaan, het die personeel by ontvangs probeer om haar vir twee kamers te laat teken, hoewel hulle net in een kamer – ‘n gesinseenheid – gebly het.
“Ons het al drie in kamer 100 gebly, maar toe ons uitteken, was daar ‘n vorm dat Genevi in kamer 512 gebly het. Ek het geweier om dit te teken en die personeel wou my nie toelaat om dit af te neem nie.”
Laevelder het verlede week berig dat nog mense in die fasiliteit vir meer kamers moes teken as wat hulle gebruik het. Lilly Diamond van Pretoria, Dicks Pillay, wat in KwaZulu-Natal woon, en Abraham Louw het al drie bevestig dat hulle vir twee kamers moes teken terwyl hulle net een benodig het.
LEES OOK: Innibos Digitaal – jy sit in die voorste gestoeltes!
In antwoord op vrae van koerant, het Thami Mchunu, woordvoerder van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, gesê dat daar op 16 Junie ‘n aantal van 98 mense in die Mecure Hotel in kwarantyn was. Die Van der Nest-gesin het op 12 Junie by die fasiliteit aangekom en moes vir 14 dae in kwarantyn bly, sê hy.
Hy sê paartjies is net een kamer toegeken wat hulle dan moet deel. “Ons betaal net vir kamers wat toegeken is en nie vir leë kamers nie. Ons betaal R1 208 per kamer en waar dit gedeel word, betaal ons R1 420. Die hotel het die kontrak om as kwarantynsentrum te dien ontvang omdat dit op ons goedgekeurde databasis van diensverskaffers is. Al die goedgekeurde diensverskaffers is gevra om te kwoteer en daarna het ons die aanstelling gemaak op grond van prys en beskikbaarheid,” sê Mchunu.
Intussen is Genevi en Joshua verheug om na meer as 100 dae weer by die huis te wees en met hulle troeteldiere, Nala (‘n hondjie), en Hulk (‘n luislang) te kan speel.
