Lekker vermaak vir die kinders die naweek met Innibos Digitaal
Is jy al moeg planne uitgedink oor hoe om die kleingoed besig te hou? Innibos Digitaal, wat hierdie naweek begin stroom, bied drie gehalte vertonings aan spesiaal vir kinders!

Liewe Heksie en die Tuindwergie sal die kleintjies vasgenael hou! Toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?
Dié is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het.
Oom Karoolus en Lente is geliefd en bekend en hulle bring die Goeie Nuus op ’n maklike en verstaanbare manier aan jong kinders.

Felias en Pokkel is twee veldmuise in die boer se huis. Felias is ’n slim, lang, maer muis met ’n brilletjie en Pokkel ’n kort, ronde, jong muis met ’n groen hoedjie op sy kop. Pokkel het baie vragies oor waar melk, koffie, plastiek en die koronavirus vandaan kom.
Felias staan bont om te verduidelik, en dan moet hulle ook nog die honger kat dophou! O ja, en daar is sowaar ’n pratende donkie ook! Die produksie met lekker saamsing-liedjies en komedie word in poppekas-styl aangebied. Snaaks, oorspronklik en uit die pen van Jakkie Louw.
LEES OOK: Innibos Digitaal – jy sit in die voorste gestoeltes!

Die volledige program is op innibos.co.za/innibosdigitaal.
