Local newsNews

Volbank regters wys appèl van die hand

Vir die tweede maal in vyf maande het Naomi Engelbrecht, die streekshofpresident van Mpumalanga, haar rieme in die Hooggeregshof styfgeloop.

Engelbrecht se voortslepende tweestryd en konflik met Regter Francis Legodi, het onlangs in die Hooggeregshof gedraai. Dít nadat sy ‘n besluit afgedwing het om die streekshof van Skukuza na Mhala te verskuif.

Nie net het ‘n volbank van regters in Februarie beslis dat sy nie by magte was om die Skukuza-hof te verskuif nie, maar haar aansoek om appèl teen dié beslissing is twee weke gelede ook van die hand gewys.

Die Skukuza-streekshof is een van die belangrikste rolspelers in die voortslepende stryd teen renosterstroping.

Die eensydige besluit van Engelbrecht het nie net die toorn van rolspelers in die bewaring en beskerming van renosters ontketen nie, maar het selfs kwaai reaksie van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) tot gevolg gehad.

LEES OOK: Feesvieringe saam met Innibos innihuis

Die aanloop tot die omstrede besluit het laat in 2017 begin toe sy onverwags aangekondig het dat die streekshof na Mhala verskuif gaan word.

Dit het egter nooit gebeur nie. In Augustus verlede jaar het sy haar plan deurgevoer ten spyte van ‘n heftige openbare veldtog teen die besluit.

Sy het dit deur gestoomroller, selfs nadat Legodi in Desember opdrag gegee het sy is nie by magte om dit te doen nie. Hy het bevind dat haar besluite ongeldig en dus nietig is.

Aanklaers en landdroste is egter verplig om alle streekshofsake wat in Skukuza aangehoor is, waarvan die oorgrote meerderheid renosterstroop-verwant is, se verhore na die hof in Mhala, sowat 100 km van Skukuza af, uit te stel.

LEES OOK: Innibos Digitaal – jy sit in die voorste gestoeltes!

Om sake te vererger het die NDOV laat in Desember ‘n mosie-aansoek in die Mhala-hof gebring om Engelbrecht se besluit te laat herroep.

Omdat nie een van die streeks-landdroste glo die saak wou aanhoor nie, na bewering uit vrees vir intimidasie, het Engelbrecht besluit om self die voorsittende beampte te wees.

Nie net het sy die NDOV se aansoek van die hand gewys nie, maar ook gesê sy steur haar nie aan die beslissing van Legodi nie.

Hy het op sy beurt gevra ‘n volbank van regters moet ‘n hersieningsmosie oor die dispuut aanhoor.

In Februarie het die saak voor Regter Bernard Ngoepe (afgetrede president van die Noord Gauteng Hooggeregshof), afgetrede Regter Cynthia Pretorius en waarnemende Regter Moira Mankge gedien.

Wenkbroue het in die hofsaal gelig toe adv. Kgama Shai bekendgemaak het hy tree nie net namens ‘n groep verdagte renosterstropers op om die aansoek gaan teenstaan nie, maar ook namens Engelbrecht.

In die hof is onder meer getuienis aangebied waarin Engelbrecht in ‘n e-pos aan Legodi geskryf het waarin sy sê: “(Ek) verkies om die riglyne te ignoreer,” of “(I) choose to ignore the directives”, en “jy sal van my hoor,” of “you will hear from me.”

LEES OOK: Kwarantyn-gesin uiteindelik weer tuis

In ‘n eenparige beslissing het die regters bevind dat haar taalgebruik teenoor Legodi nie net onvanpas, disrespekvol en onnodig strydlustig was nie, maar dat haar besluite om die hof te skuif ook ongeldig was.

Hulle het ook bevind sy was nie wetlik by magte om ‘n beswaar oor ‘n besluit wat sy self geneem het, aan te hoor nie.

Die regters het gevra dat hulle beslissing aan die Landdroste-kommissie verwys moet word vir verdere optrede.

Met die aanhoor van die aansoek om appèl teen die beslissing aan te teken, het Shai weer die vermeende stropers verteenwoordig en adv. William Mokhari vir Engelbrecht. Die appèlaansoek is deur dieselfde volbank van regters verwerp.

Poging om kommentaar by Engelbrecht te kry was vrugteloos.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button