Local newsNews

Privaat speurder help soek na Witrivier-vrou

Die vrou wat drie weke gelede spoorloos verdwyn het se dogter is desperaat om haar ma op te spoor

Die raaiselagtige geval van ‘n vrou wat drie weke gelede spoorloos verdwyn het, word nou deur ‘n privaat speurder ondersoek.

Christina Jacomina Jooste (58) is laas gesien toe sy met twee sakke by die Katoen Uitreik-kommune op Rocky Drift, waar sy tydelik gewoon het, uitgestap het.

Leenè Joubert, haar dogter, sê haar ma het vir enkele maande by haar in Centurion gewoon.

In Maart het Jooste na Lydenburg verhuis waar sy ‘n pos aanvaar het om na ‘n bejaarde vrou om te sien. Die vrou is egter enkele weke daarna oorlede. Aan die begin van Junie het Jooste na Katoen verhuis.

“My ma ly aan erge depressie en gebruik baie sterk chroniese medikasie vir haar toestand. Indien sy nie medikasie gebruik nie, raak sy verward en is sy baie buierig. Sy het juis in Lydenburg verskeie kere met haar vriende baklei omdat sy geweier het om haar pille te drink.”

Joubert sê Jooste het kort voor haar verdwyning op 12 Junie weer onstabiel begin geraak, haar blonde hare afgesny en baie van haar klere en besittings weggegooi.

Die oggend het sy nog by Katoen rondgeloop, maar het toe spoorloos verdwyn. Iemand het glo gesien sy loop by die hek uit met twee swartsakke.
Sy is sedertdien nog nie weer gesien of van gehoor nie. Sy het ook nie ‘n selfoon nie.

LEES OOK: Beleef die opwinding van die beste feeskonserte uit die Innibos-argief

Ten tye van haar verdwyning het Jooste, ‘n tenger-geboude vrou wat sowat 50 kg weeg, ‘n blou denimbroek, ‘n swart en rooi hemp en ‘n swart moulose baadjie aangehad.
Indien iemand iets van Jooste se doen en late af weet, kan hulle Wendy Pascoe, die privaat speurder, by 072-649-7683 skakel.

Foto: Verskaf deur Leenè Joubert

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button