Local newsNewsBreaking News

Eienaar sê wildpark buite Mbombela is vir ‘n goeie doel

'n Veldtog het soos 'n veldbrand versprei en kort voor lank was honderde op die lawaai-wa.

 Die moontlikheid van ‘n dieretuin in die buitewyke van die stad het die Laeveldse gemeenskap behoorlik warm onder die kraag. ‘n Sosiale-mediaveldtog is van stapel gestuur teen die Pumbaa Wildlife Park, met talle mense wat wou weet hoekom ‘n dieretuin nodig is as die Nasionale Krugerwildtuin op die stad se voorstoep is.

Baie het hul profielfoto’s verander om hulle misnoeë te toon en het die hutsmerk #NoZooMpumalanga gebruik. Die veldtog het soos ‘n veldbrand versprei en kort voor lank was honderde op die lawaai-wa.

Daar word onder meer beweer dat die nodige permitte vir eksotiese diere soos tiere en wit tiere, leeus en witleeus, ‘n poema, ‘n wolf, ‘n jaguar en wildehonde, nie in plek is nie. Laevelder het met die eienaar van Pumbaa Wildlife Park, Hennie Maritz, gesels. Hy het bogenoemde bewerings teen sterkste veroordeel.

“Die veldtog het handuit geruk. Ons kan bevestig dat al die diere wat op ons perseel is, wettig is en daarom is ons nie bang om met die publiek te praat nie,” het hy gesê, en bygevoeg dat die doel van die park hoofsaaklik vir opvoedingsdoeleindes gebruik gaan word. Al die diere wat hy aanhou is glo in gevangenskap gebore en was erg verwaarloos toe hulle by hom aangekom het. “Hulle welstand kom eerste,” het hy genoem.

Pumbaa en Maritz word verteenwoordig deur Mandla Macbeth Ncongwane, ‘n plaaslike prokureur. Volgens Macbeth, soos wat hy in die Laeveld bekend is, is sy kliënt ‘n wetsgehoorsame burger wat ingevolge die wet probeer om die regte te bekom om ‘n wildpark te bedryf tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. “Enige pogings om die aansoek wat by die MTPA ingedien is te benadeel, sal kragdadig verdedig word,” het hy in ‘n brief aan Laevelder gesê.

Hy het bevestig dat die MPTA nog sy kliënt se aansoek vir ‘n wildpark oorweeg en het die belangrikheid van ‘n regverdige administratiewe proses in dié verband beklemtoon. Macbeth is bekommerd dat ‘n openbare debat die objektiwiteit en regverdigheid van die proses sal beïnvloed. “Dit moet in ag geneem word dat ‘n wildpark toelaatbaar is ingevolge die MTPA-wet van 2005,” sê hy.

Maritz het egter intussen ‘n goedgekeurde permit aan die koerant verskaf wat in Julie uitgereik is.

Hy moet aan sekere vereistes voldoen, soos om onder andere oop te wees vir gereelde inspeksies, en om permitte vir al die diere te hê. Macbeth beskou Liezl de Jongh, ‘n prominente figuur in die veldtog, se onlangse plasings om die wildspark op Facebook teen te staan as “lasterlik, ongegrond en onwaar”, en het gedreig met regstappe teen haar.

Hy was ook uitgesproke teen enige beweerde of moontlike invloed wat op die gemeenskap uitgeoefen kan word teen sy kliënt se aansoek om ‘n wildpark te kan bedryf.

ALSO READ: Elephant kills River Lodge guide

Hoewel die plaaslike Diere-beskermingsvereniging (DBV) van mening bly dat wilde diere in hulle natuurlike omgewing gelaat moet word en sterk gekant is teen die aanhouding van dié diere in gevangenskap, het dit gesê dat verskeie inspeksies by Pumbaa Wildlife Park uitgevoer is. “Vir ons is die diere se welstand ten opsigte van spasie, gehalte-voeding, skoon drinkwater, fisiese toestand en gesondheid, toepaslike skuiling van belang.


 
“Ons wil sien dat die diere se lewensomstandighede van so ‘n mate is dat hulle hul natuurlike gedrag sover moontlik kan openbaar binne die situasie van gevangenskap. Ons is in hierdie stadium tevrede dat vereistes nagekom word. Die publiek moet egter in ag neem dat dit nie ‘n onwettige praktyk is nie, en dat ons van die kant van die DBV slegs binne ons mandaat kan optree,” het die vereniging genoem.

ALSO READ: SANParks announces accommodation booking rules for lockdown level 2

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Stefan de Villiers

Stefan de Villiers, based in Mbombela, Mpumalanga, is currently the Editor at Lowvelder. He brings a wealth of knowledge and experience from previous roles at Lowveld Media, such as Sports Editor, Journalist and Photographer. He started on November 1, 2013.
Back to top button