Local newsNews

Fred Daniel se saak teen Mabuza en die Parkeraad weer uitgestel

Die saak van oud-Laevelder Fred Daniel, een van 12 eisers wat deel is van ‘n siviele geding teen die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MTPA) en 24 ander verweerders, is uitgestel.

Die saak is aanvanklik geskeduleer om tussen 27 Julie en 28 Augustus in die Hoëhof in Pretoria aangehoor te word. Adjunk-president David Mabuza is ook een van die verweerders.

Volgens Edwin du Plessis van DLBM Prokureurs wat optree vir die eisers, pas die regter saakbestuur toe omdat die verweerders hulle lys van getuies aansienlik uitgebrei het.

Du Plessis sê die regter is van mening dat die saak 50 dae sal neem om af te handel in plaas van die 25 dae wat aanvanklik toegeken is. Waarnemende adjunk-regter-president TJ Raulinga het aanvanklik 25 hofdae aan die saak toegeken.

Dieselfde proses gaan nou weer gevolg moet word om 50 dae toe te ken. Du Plessis is egter van mening dat die saak binne 10 dae afgehandel kan word.

Daniel en die anders eisers, wat maatskappye wat aan hom behoort insluit, eis R1 miljard van verskeie staatsinstellings en individue vir ‘n beweerde politieke sameswering teen hom as ‘n sakeman.

LEES OOK: Eienaar sê wildpark buite Mbombela is vir ‘n goeie doel

Daniel was eienaar van Cradle of Life, ‘n natuur- en wildreservaat in Badplaas. Die reservaat is intussen verkoop. Laevelder het in 2019 berig dat Daniel gesekwestreer is.

Die sekwestrasie is later in 2019 ter syde gestel en die voorlopige likwidasie van sy ondernemings is ook gestop.

Daniel het al so vroeg as 2017 beweer dat die MTPA hom teister en het ‘n beskermingsbevel teen die organisasie gekry. In 2018 het hy ‘n tussentydse bevel teen Mabuza gekry, waarin hy beweer het dat Mabuza en die MPTA hom teister en Cradle of Life, ‘n wildsplaas in Badplaas, sabotteer. Sarel Grabe, ‘n landdros van Carolina, het later die bevel ter syde gestel.

In 2008 het Daniel ongerymdhede rondom grondeise oopgekrap en beweer dat die teistering as gevolg daarvan begin het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button