Local newsNews

Grondgrypers reeds tuis in Karino-vallei

KARINO - ‘n Voortslepende dispuut tussen grondgrypers, omliggende boere en ‘n ontwikkelaar/eienaar van ‘n 30 ha-plaas het onlangs in geweld ontaard.

Besetters het sowat vier weke gelede ongenooid op die plaas opgedaag en geëis dat hulle erwe daar wil afpen. Toe Themba Makhabela, die eienaar van die grond wat self besig is met ‘n ontwikkeling daar, hulle probeer wegjaag, is hy erg aangerand.

Hy was in daardie stadium ook besig met onderhandelinge met die Mpumalanga provinsiale regering om die grond aan hulle te verkoop.

Terwyl hy in die hospitaal behandel is, het die grondgrypers met stootskrapers by die plaas opgedaag en begin om die grond, wat aan Witrivier grens, gelyk begin stoot. Soos dit gelyk gemaak is, het die sogenaamde leier van die groep ‘n afdak opgerig waar hulle erwe van sowat 100 m² begin uitmerk het.

LEES OOK: Fred Daniel se saak teen Mabuza en die Parkeraad weer uitgestel

Die erwe is vir R600 elk verkoop. Boere wat weens sekuriteitsredes anoniem wou bly, sê daar heers groot kommer onder veral kommersiële boere wat in die vallei boer oor die veiligheid van hulle eiendom. “Met die informele nedersetting wat besig is om hier op te skiet, is daar nie net ‘n veiligheidsrisiko nie, maar die waarde van ons eiendom word negatief beïnvloed.”

‘n Ander boer van die Karino-vallei, wat bekend is vir sy vrugbare landbougrond, sê hulle het die saak by die polisie, stadsraad asook die regering aangemeld in die hoop dat die besetters verwyder sal word. Dit het egter nie gebeur nie omdat daar skynbaar onsekerheid bestaan oor wie verantwoordelik is vir beheer oor die plaas.

“Wat ons erg bekommer is nie net die bedreiging van ons veiligheid nie, maar ook dat die sogenaamde ontwikkeling lukraak aangepak word. “Daar is geen voorsiening van riolering, sanitasie of watertoevoer nie. Daar is ook nie ‘n omgewingsimpakstudie gedoen om te bepaal hoe ‘n woonbuurt die natuur en omgewing gaan beïnvloed nie.”

In hierdie stadium word daar plakkers-hutte skaars 20 m van Witrivier, wat eintlik maar ‘n nie-standhoudende spruit is, gebou. Die wonings is onder die 50-jaar vloedlyn van die spruit gebou en die gevaar dat van die strukture na swaar reën in die slag gaan bly, is baie groot, sê Malcolm Savier (skuilnaam).

Tydens die reënseisoen vloei die spruit wel ‘n bietjie, maar na swaar buie is dit gewoonlik in vloed. Die grondgrypers bekom glo tans water uit die enkele poele met water, maar dit is vining besig om op te droog.

Daar is glo ook reeds met die boere se lewensaar vir besproeiing, die Primkopdam, se waterstelsel gepeuter, skynbaar in ’n poging om water daarvandaan na die onwettige ontwikkeling te kanaliseer. In reaksie op die grondgrype, onder meer ook die op die R40 Cromdale in die Hermansburg-omgewing, het die Mbombela-owerheid ‘n kennisgewing uitgereik waarin hulle grondgrypers waarsku dat hulle vervolg sal word.

“Ons ontmoedig enige vorm hiervan in ons jurisdiksiegebied,” het Sipho Siwela, Spreker van die raad in ‘n verklaring gesê. Hy het ook raadslede en amptenary gewaarsku om nie aan enige vorm van grondgrype, uitmerk van erwe of onwettige onderverdeling deel te hê nie.

Intussen het die owerheid ‘n hofbevel bekom waarin die grondgrypers verbied word om voort te gaan met hulle aksies. Wat die onwettige plakkershutte wat reeds opgerig is betref, moet die raad egter nou vir ‘n tweede hofbevel aansoek doen.

LEES OOK: Eienaar sê wildpark buite Mbombela is vir ‘n goeie doel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button