Amerikaanse veghond dood nadat hy slang doodbyt
Elisia Lee en haar familie het drie jaar gelede vir Uba, ’n Amerikaanse veghond (pit bull), by die Underdogs SA Pitbull Rehabilitation Center in Pretoria aangeneem. Hulle moes sowat ’n week gelede van hom afskeid neem.

Volgens Lee was hulle besig om ’n buitekamer reg te pak toe Uba om die hoek gestap kom. “Hy was van balans af en sy mond het geskuim. Ons het dadelik geweet dis ‘n slangbyt en met hom veearts toe gejaag, maar hy is 10 minute later in die kar dood.”
Eers later het hulle die swartmamba om die hoek van waar hulle besig was gekry. Hoewel die slang in stukke was, het Lee gesê hulle skat dat hy so 2 m lank was. “Ek glo met my hele hart Uba het ons daardie dag beskerm teen iets wat bitter lelik kon uitdraai as die slang by my kinders uitgekom het.
Hy het nie eens geblaf nie, hy het net gedoen wat hy moes om sy familie te beskerm en so sy eie lewe verloor.”
Oor haar liefde vir hom kon sy nie uitgepraat raak nie, en sy dood het vir hulle as familie groot hartseer veroorsaak. Hy was teenoor hulle niks anders as liefdevol nie en sy het gesê die wanpersepsie rondom hierdie spesifieke honderas ontstel haar vreeslik. “Amerikaanse veghonde is vir seker die honderas wat die meeste misverstaan word! Mense en die media gee aan hulle ’n bitter slegte naam.
LEES OOK: Fred Daniel saak teen Mabuza en die Parkeraad weer utigestel
“Hulle is nie monsters nie – hulle is sag en liefdevol. Big babies! Hulle is die beste metgesel waarvoor ’n mens kan vra. Uba was ’n geskenk van God aan ons.” Sy het ook Estelle Smith geprys oor die werk wat sy en haar span by Underdogs SA Pitbull Rehabilitation Center doen. Sy noem haar selfs die “engel vir veghonde”.
“Sy is so toegeweid om seker te maak die regte hond gaan na die regte huis toe. Dis nie net ’n geval van bel, hond uitkies en huis toe neem nie. Hulle gaan eers deur rehabilitasie en as hulle 100 % reg is om aangeneem te word, word hulle beskikbaar,” vertel Lee.
Smith het meer as 30 jaar gelede haar liefde vir dié ras ontwikkel, en is self bitter opstandig teen die wanpersepsie oor Amerikaanse veghonde. Sy maak dit duidelik: dit is níé die honde nie, maar die mense wat die probleem is.
