Local newsNews

KYK: Vermoorde lt.kol. Leroy Bruwer se geliefdes neem finaal afskeid

Sy familie en vriende het met onder meer 'n simboliese Missing Man-lugvertoning by die Orpen Dam, waar hy en sy verloofde sou trou, hulle laaste totsiens gesê.

Op wat wyle lt.kol. Leroy Bruwer van die Valke en Tarina van Wyk se verlowingsnaweek sou wees, het sy en naby vriende ‘n tipe gedenkdiens gehou by die Orpen Dam in die Nasionale Krugerwildtuin.

Leroy en Tarina sou hier op 22 Augustus hul ewige trou aan mekaar beloof.

Hy is egter in Maart doodgeskiet. Daar bestaan geen twyfel dat sy moord met sy werk rakende die bekamping van renosterstropery verband gehou het nie.

Maar hierdie geleentheid was vir een mens baie meer as net die herinnering van daardie dag.

Tarina van Wyk en haar seun en steunpilaar, Colenso.

“Daar was soveel liefde en ondersteuning van elkeen wat die dag saam spandeer het,” het sy verloofde, Tarina gesê. Familie en vriende wat betrokke by hulle troue sou wees, het saam die dag deurgebring.

LEES OOK: Amerikaanse veghond dood nadat hy slang doodbyt

“Sharon Haussmann wat saam met my en Leroy op Laerskool Numbi begin het, en ook saam matriek geskryf het by Hoërskool Rob Ferreira, se bywoning was vir my so verskriklik kosbaar.

“Dit het my laat dink aan ons sorgvrye kinderdae wat ons saam spandeer het en waar ek ook Leroy se klein seuntjiehart leer ken het.”

Op die dag was daar ‘n simboliese Missing Man-lugvertoning waarby twee helikopters betrokke was. Die twee helikopters hang vir ‘n ruk lank in die lug waarna aanvanklik net een wegvlieg. Die eerste simboliseer Leroy se afsterwe, terwyl die oorblywende een die mense voorstel wat agterbly om die stryd teen renosterstropery voort te sit.

> Video: verskaf

Veldwagters het ook hier hulle laaste eer betoon, aangesien hulle weens Covid-19 nie sy begrafnisdiens kon bywoon nie.

Vir hulle wittebrood sou hulle Kalahari toe gegaan het, en dit is steeds die plan, maar eers in 2021. “Dit was sy hartswens dat ek die Kalahari moet sien. Dis ook ‘n plek waar hy besonderse ervarings gehad het en hy wou dit graag met my deel. Ek wil dit graag gaan beleef.”

LEES OOK: Fred Daniel saak teen Mabuza en die Parkeraad weer utigestel

Dit is nog ‘n lang proses van genesing, maar Tarina het gesê die dag was ‘n groot stap vir haar. “Ongeveer ‘n maand na sy dood het ek eendag tot die besef gekom dat ek glo hy sal na die inperking terugkom huis toe.

“Dit was ‘n skok toe ek besef dit gaan nie gebeur nie. Ek moes doelbewus werk daaraan om te besef hy kom glad nie weer terug nie. Ek het meer kalmte en rustigheid na Saterdag. Dit was baie wipplank ry met my emosies om te weet dit sou my troudag wees, maar daar is nie meer ‘n bruidegom nie.

“Na ek die as gestrooi het, het ek ‘n kalmte ervaar dat hy nou rus waar hy op sy heel gelukkigste was.”

Sy dood is nou al meer as vyf maande gelede. “Dit voel soms of hy gister nog hier by my was. Die seer gaan nog lank vat om te genees.” 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button