Local newsNews

Dewald leer van empatie op sy reis ná amputasie

Hy was eens een van die mees gevreesde MMA-vegters (gemengdevegkuns) in die land en het met die titel van Suid-Afrika se beste superswaargewigbakleier gespog.

MBOMBELA – Ook was hy die eienaar van die gewilde Deja Vu-kuierplek. Sedert November het sy lewe handomkeer verander, en moet Dewald Botes nou met ‘n kunsbeen en rolstoel oor die weg kom. Dit het dan ook die einde van sy roemryke gemengde-vegkunsloopbaan beteken.

Dewald Botes.

“Op ‘n dag het ek binne ‘n enkele uur ‘n geweldige pyn in my regterbeen ondervind. Dit was so erg dat ‘n ambulans my hospitaal toe moes neem,” vertel Botes.

Na behandeling van twee weke is hy huis toe gestuur met ‘n handvol antibiotikapille.

Botes se been kort ná amputasie.

“Die been was steeds seer, geswel en rooi. Enkele dae later is ek weer in die hospitaal opgeneem. “Dié keer het ek egter aangedring om behandeling by ‘n dokter wat ek vertrou te kry.” Daar is toe vasgestel dat hy ‘n proteïeninfeksie in sy regteronderbeen ontwikkel het. Die toestand is om een of ander rede nie deur die vorige dokters gediagnoseer nie. “En hier het my lewe van hel en pyn begin,” vertel Botes.

Na 19 operasies was daar wel ‘n verbetering aan sy been, maar ander mediese komplikasies het begin ontwikkel. Daar is besluit dat hy na ‘n spesialis in Pretoria verwys moes word. In Pretoria is daar die traumatiese besluit geneem om sy been te amputeer om sodoende sy lewe te red. Sy regterbeen is net onderkant die knie afgesit.

LEES OOK: Lydenburg wen gholfkampioenskappe

“Ek is steeds baie emosioneel oor die hele voorval. Ek bly die vraag vra hoekom dit met my moes gebeur het. “Ek het niks gedoen om dit te verdien nie,” sê Botes.

Met die ondersteuning van sy vrou, Elize, en sy mediese en rehabilitasiespan, het hy egter vrede met sy lot begin maak.

“Een ding wat ek wel geleer het, is om te aanvaar dié is God se wil, en ek het daarby berus. Dit is steeds ‘n baie bitter pil om te sluk. “Maar een ding wat ek ook die afgelope maande geleer het, is om meer empatie en respek te hê, veral vir ander gestremdes.”

Vir nou bly Botes egter by die huis en konsentreer hy op sy rehabilitasie.

“Ek sal volgende jaar weer daaraan dink om te begin werk.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button