Genade op genade vir plaaslike pastoor ná ongeluk
Byna ’n jaar na haar ongeluk in ’n veldvoertuig, is past. Cyzelle Fincham van die Grace Family Fellowship vandag “flippen dankbaar” om te kan wees waar sy is. “Die Here is goed vir my; dis genade op genade.”

Die ongeluk het op 11 September gebeur tydens ’n familienaweek weg saam met vriende. Haar kinders het ’n baba-eendjie by haar aangebring en sy en ’n vriend het met die voertuig na ’n plek gery om dit vry te laat.
Dit was op pad terug van hierdie uitstappie wat hulle die voertuig op ’n draai laat rol het. Op ’n manier het die voertuig bo-op haar beland en vandaar was dit ’n reddingsoperasie van formaat.
LEES OOK: Cyzelle Fincham: ‘Ek kon die hemel sien’
Rol die tyd aan na vandag, waar die gesin pas in ’n nuwe huis ingetrek het.
Fincham staan met ’n vars beker koffie by die kombuistoonbank en vertel hoe dankbaar sy is om nog daar vir haar drie kinders, Joshua, Kaycee en Kamea, en ook haar man, Kelvin, te kan wees.

Die dokters het destyds verstom gestaan oor haar herstelling, en sy is vas oortuig dit gaan weer die geval wees wanneer sy in September vir haar opvolgondersoek by dr. Chris Snyckers in Pretoria moet gaan.
’n Mens sal dit byna nie raai wanneer jy na haar kyk nie, maar sy sê: “Die hele linkerhelfte van my gesig is plastiese chirurgie.”
Sy het twee breuke in haar gesig gehad, haar wangbeen was ingeduik, sy het ses gebreekte ribbes gehad, haar bekken was op drie plekke gebreek, haar linkerbeen se senuwee het seergekry, drie nekwerwels en laerugwerwels het spanningsbreuke opgedoen, en haar enkel het ’n gat in gehad.
“Die Here is goed vir my; dis genade op genade.”
Sy sien uit om ’n bietjie te kan oefen, want op hierdie stadium kan sy nog net stap. Saam met familie en vriende het sy vir haar 40ste verjaardag ’n stappartytjie naby Carolina gehou.
LEES OOK: Hoërskool vier 100ste bestaansjaar vandag
“Ek dag aanvanklik dis net 7 km, en toe is dit 11! Ek was moeg, maar het dit gemaak.

“Ek het ook ’n praise and worship vir my 40ste gehou, net om vir die Here dankie te sê vir alles die afgelope jaar.
“Wat ek gehad het was ’n near-death experience. Ek het met gedrogte baklei terwyl ek daardie drie weke onder verdowing was, en gesien wanneer mense bid, hoe die engele krag gekry het.”
Daardie tydperk was ’n geestelike ervaring wat sy eintlik nog nie volledig met iemand gedeel het nie. Sy praat hier en daar van die dinge wat sy gesien en ervaar het, maar sê sy is nog nie reg om dit alles te deel nie.
Sy sê wel dit wat sy ervaar het, was vir haar so ’n volkome samevatting van liggaam, gees en siel, dat dit haar herinner het aan wat in 1 Tessalonisense 5:23 staan:
“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!”
LEES OOK: Lydenburg: koudste in 35 jaar
Sy sê haar ervaring laat haar bloot wonder hoekom daar sekere mense is wat nog nie hulle harte vir die Here wil gee nie.
Sy het in besonder die mense wat haar op haar reis tot dusver gehelp het, bedank. “Dankie aan my fisio, Petro Zietsman, my sielkundige, Ronel Nel, my biokinetikus, Adele Smit, en dr. Snyckers; hulle is almal net so ongelooflik.”

